Nuus 14:00
BULLETIN 1 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Zille sê daar is wel ‘n mosie van wantroue teen Ramaphosa
# Forum versoek dat Ministerie van Polisie ouderdomsvereiste moet skrap op werwingsaansoeke
# En sokker: Die verdedigende kampioen, Manchester City, is uit die Klub-Wêreldbekertoernooi
# Die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille, sê die party het wel ‘n mosie van wantroue teen president Cyril Ramaphosa. Die party beskuldig hom dat hy nie teen korrupte ANC-ministers opgetree het nie. Dit volg nadat Ramaphosa die DA se adjunkminister van Handel en Nywerheid, Andrew Whitfield, afgedank het omdat hy sonder presidensiële goedkeuring internasionaal gereis het. Zille sê as die mosie teen Ramaphosa in die Parlement ter tafel gelê word sal die regering ineenstort:
# Die Forum for South Africa vra die Ministerie van Polisie om die ouderdomsvereiste op werwingsaansoeke te skrap vir persone wat oor ’n kwalifikasie beskik, en ook om rybewys as ‘n vereiste vir alle aansoekers te skrap. Die polisie het ‘n aanlyn werwingsveldtog begin vir vyf-duisend-500 aspirantlede om by sy geledere aan te sluit. Die leier van die forum, Tebogo Mashilompane, sê dit is problematies dat die polisie slegs jong mense tussen die ouderdom van 18 en 35 teiken:
# Die Stad Kaapstad het bykomende wetstoepassingsbronne herontplooi ter ondersteuning van SAPD-operasies wat gemik is op bekende bende- en afpersingsbrandpunte. Beamptes verbonde aan die Wetstoepassingsbevorderingsplan het Saterdag ‘n bestuurder en passasier in Gugulethu in hegtenis geneem vir die besit van ‘n gelaaide aanvalsgeweer. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê die ontdekking het gevolg ná ‘n massaskietery waarin sewe mense dood is:
# ‘n Strafregtelike ondersoek is begin ná Bob Vylan en Kneecap se vertonings op die Glastonbury-kunstefees in Engeland. Die Britse minister van Kultuur, Lisa Nandy, beweer daar is ʼn leierskapsprobleem by die BBC. Sy kritiseer die uitsaaier oor sy besluit om nie die regstreekse uitsending te staak nie nadat die groep se voorsanger uitgeroep het “death, death to the IDF“, verwysend na die Israelse Weermag. Nandy sê die regering sal nie anti-Semitisme duld nie. Die BBC se direkteur-generaal, Tim Davie, word nou gevra om te bedank.
# Sokker: Die verdedigende kampioen, Manchester City, is in die laaste 16 van die Klub-Wêreldbekertoernooi uitgeskakel toe hulle in ekstra tyd deur die Saoedi-Arabiese span Al-Hilal oorrompel is. Pep Guardiola se span het ongeskonde deur die groepstadiums gevorder, maar kon nie na die kwarteindronde deurdring nie nadat hulle vier doele met roekelose verdediging afgestaan het. Al-Hilal het ‘n merkwaardige vertoning gelewer om 4-3 te wen in die Camping-stadion in Orlando, Amerika, en speel Vrydag in die kwarteindronde teen die Brasiliaanse span Fluminense.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-59-sent teen die dollar, 20-rand-78-sent teen die euro en 24-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-555-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-347-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….