Nuus 13:00
BULLETIN 1 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# KwaZulu-Natal sal toegang kry tot Wes-Kaapse hulpbronne tydens groot natuurrampe
# ‘n Ontvoerde baba word ongedeerd gevind in Kaapstad
# En tientalle mense sterf in ‘n ontploffing by ‘n fabriek in Indië
# KwaZulu-Natal sal toegang hê tot Wes-Kaapse hulpbronne tydens groot natuurrampe. Dit volg nadat ‘n nuwe ooreenkoms van verstandhouding tussen die twee provinsies onderteken is. KwaZulu-Natal se LUR vir Openbare Werke, Martin Meyer, en Tertuis Simmers van die Wes-Kaap het die ooreenkoms in Musgrave onderteken om samewerking te versterk en belangrike infrastruktuur teen oorstromings te beskerm. KwaZulu-Natal worstel steeds om stormbeskadigde infrastruktuur te herstel, terwyl die Wes-Kaap binne weke beskadigde strukture herbou, gemeenskappe herkoppel en noodsaaklike dienste herstel het.
# Die Vryheidsfront Plus sê hy verwerp ‘n verslag wat 230-miljoen-rand oor drie jaar toeken om voordele te bied aan meer as ʼn duisend gekontrakteerde veiligheidswagte in Tshwane. Die party sê een-duisend-283 wagte is in 2021 sonder voordele aangestel. ʼn VF Plus-lid, Grandi Theunissen, sê die party het aan die raad voorgestel om ʼn deeglike ondersoek te doen om seker te maak die wagte voldoen aan die vereistes:
# ‘n Vermiste pasgebore seuntjie, Mogamat Imaad Shamar, is ongedeerd gevind in Tafelsig in Mitchells Plain, Kaapstad. Polisiewoordvoerder Frederick van Wyk sê ‘n multidissiplinêre taakspan het onvermoeid gewerk sedert ‘n saak van ontvoering Saterdag by Bellville se polisiestasie geregistreer is. Hy sê die baba is by ‘n plaaslike winkelsentrum ontvoer:
# Tientalle mense is dood in ‘n reuse-ontploffing en brand in ‘n farmaseutiese fabriek in die suidelike Indiese staat Telangana. Nuusagentskappe berig die voorval het tydens werksure by Sigachi Industries plaasgevind en verskeie mense is beseer. Van hulle is in ‘n bedenklike toestand. ‘n Senior polisiebeampte het aan Press Trust of India gesê 31 liggame is onder die puin uitgehaal en drie mense is in die hospitaal dood. Die dodetal sal na verwagting verder styg. ‘n Woordvoerder sê fyn chemiese stowwe in die lug het die tragedie bespoedig.
# Rugby: Twee ervare Franse spelers kan Saterdag se eerste toets teen die All Blacks in Dunedin misloop weens beserings. Die heelagter Cheikh Tiberghien en die vleuel Gabin Villiere sou na verwagting in hoofafrigter Fabien Galthie se opdrafspan ingesluit word terwyl die besoekers reeds moet klaarkom sonder talle van die spelers wat vanjaar se Sesnasies-titel help beklink het. Vyf spelers van die Top 14-finaliste, Toulouse en Bordeaux-Begles, gaan Frankryk se groep versterk wanneer hulle aansluit vir die oorblywende toetse in Wellington en Hamilton.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-58-sent teen die dollar, 20-rand-76-sent teen die euro en 24-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-690-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-342-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….