Nuus 11:00
BULLETIN 1 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum vra die afwenteling van wetstoepassingsmagte
# Die Amerikaanse Senaat is besig met ‘n marathon-stemming oor Trump se Wetsontwerp op Binnelandse Beleid
# En tennis: Yulia Putintseva vra dat ‘n toeskouer by Wimbledon verwyder word
# AfriForum waarsku Operasie Shanela Twee kan moontlik misluk sonder ingrypende hervorming en gedesentraliseerde wetstoepassingsmagte. Die organisasie verwelkom nasionale pogings om misdaad te beveg, maar wys daarop dat die regering se gesentraliseerde wetstoepassingsmodel herhaaldelik misluk het. Jacques Broodryk van AfriForum sê plaaslike sekerheidstrukture soos omgewings- en plaaswagte is in baie omgewings doeltreffender en moet beter ondersteun word:
# Die Vryheidsfront Plus in Gauteng het die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Jacob Mamabolo, gevra om veilige rolstoeltoegang te verseker by alle kantore van die Rand-Wes-plaaslike munisipaliteit in Randfontein. Die VF Plus se woordvoerder, Jaco Mulder, sê een van sy raadslede wat ‘n rolstoel gebruik, Charles Brough, het Donderdag sy rug seergemaak toe hy, ʼn helper en ʼn werker by ʼn stel trappe by die gebou afgeval het. Hy sê die hysbak is altyd buite werking:
# ʼn Marathon-stemproses is in die Amerikaanse senaat aan die gang oor president Donald Trump se omvattende Wetsontwerp op Plaaslike Beleid. Die stemmery het na ʼn naweek van onderhandelinge en vertragings deurnag. Die uitgebreide stemproses gee Republikeine die geleentheid om op die nippertjie aanpassings te maak. Trump se wetsontwerp wat duisende miljard rand beloop, sal federale belastings verlaag en meer geld beskikbaar stel vir die Pentagon en grensveiligheids-agentskappe, terwyl die regering se vangnet-programme soos Medicaid verklein word.
# Tennis: Yulia Putintseva van Kasakstan het tydens haar eersteronde-wedstryd op Wimbledon gevra dat ʼn toeskouer verwyder word nadat sy kommer uitgespreek het oor sy gedrag. Die 30-jarige Putintseva het aan die begin van haar wedstryd teen die Amerikaner, Amanda Anisimova, die skeidsregter genader om die toeskouer te rapporteer. Dit was nie onmiddellik duidelik hoe daar opgetree is nie, maar spel het hervat nadat die skeidsregter met sekerheidspersoneel gepraat het. ʼn Sigbaar emosionele Putintseva het die wedstryd binne 44-minute 6-stroop, 6-stroop verloor.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-66 sent teen die dollar, 20-rand-79-sent teen die euro en 24-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-11-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-331-dollar-294-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 66-dollar-72-sent per vat.
# En ter afsluiting. . .Meer as agt-duisend leerders sal van vandag tot Donderdag by die Rhema Bybelkerk in Randburg, Johannesburg, bymekaarkom vir die 2025 ABC Motsepe Suid-Afrikaanse Skoolkoor-Eisteddfod. Die nasionale geleentheid, wat deur die Departemente van Basiese Onderwys en van Sport, Kuns en Kultuur aangebied word in vennootskap met die Motsepe-stigting, bied kategorieë soos opera-solo’s en klein ensembles aan. ‘n Kampioen van Kampioene-kategorie word die eerste keer aangebied om mededinging te verhoog en breër deelname van ontlluikende skoolkore landwyd aan te moedig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….