Nuus 17:00
BULLETIN 30 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Voormalige Transnet-hoofde kry 50-duisend-rand borgtog elk die lokomotief-tendersaak van 93-miljoen-rand
# Trump sê hy bied Iran niks aan nie en praat nie met sy regering nie
# En tennis: Die tweemalige kampioen Kvitova speel teen Navarro in die eerste ronde van haar laaste Wimbledon-toernooi
# Vier voormalige Transnet-hoofde is borgtog van 50-duisend-rand elk toegestaan in die Palm Ridge Handelsmisdaadhof in Gauteng. Anoj Singh, Brian Molefe, Siyabonga Gama en Thamsanqa Jiyane staan tereg op aanklagte van korrupsie, bedrog en geldwassery in verband met ‘n lokomotieftender van 93-miljoen-rand in 2015. Die tender word verbind aan ‘n groter ooreenkoms van 54-miljard-rand wat aan die Gupta-netwerke gekoppel is. Die hof het beslis daar is geen gevaar van inmenging met getuies of ‘n vlugrisiko nie. Jiyane moet sy paspoort inhandig as deel van sy borgtogvoorwaardes.
Die GOOD-party sê intussen die inhegtenisnemings dui op werklike vordering om diegene wat betrokke is by staatskaping aanspreeklik te hou. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê Suid-Afrikaners bepleit skuldigbevindings wat openbare vertroue sal herstel en nie slegs hoëprofiel-inhegtenisnemings nie:
# Die DA in Gauteng vra die provinsiale Gesondheidsdepartement om aankope by maatskappye te staak wat by korrupte kontrakte van die Tembisa-hospitaal betrek word en deur die vermoorde fluitjieblaser Babita Deokaran as verdag uitgewys is. Die DA se woordvoerder oor Gesondheid, Jack Bloom, sê meer as 327-duisend-rand is in 2024 aan Nokokhokho Medical Supplies uitbetaal. Die maatskappy word verbind met die ANC-magnaat Sello Sekhokho. Bloom voer aan daar is genoeg getuienis om die betrokke maatskappye op ‘n swartlys te plaas ná ondersoeke deur die Spesiale Ondersoekeenheid en die Valke:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, sê hy bied Iran niks aan nie en praat ook nie met sy regering nie nadat Amerika aanvalle geloods het op kernaanlegte in Iran. Die verklaring volg nadat Iran se adjunkminister van Buitelandse Sake, Majid Takht-Ravanchi, aan die BBC gesê het gesprekke tussen Washington en Teheran kan nie hervat word tensy Amerika verdere aanvalle op Iran uitsluit nie. Hy sê Amerika het ‘n week ná sy aanvalle op drie Iranse kernaanlegte aangedui hy wil terugkeer na die onderhandelingstafel.
# Tennis: Die tweemalige kampioen, Petra Kvitova, speel teen die tiende-gekeurde Amerikaner Emma Navarro in die eerste ronde van haar laaste Wimbledon-toernooi. Die 35-jarige Tsjeg het vroeër aangekondig sy tree uit ná vanjaar se Amerikaanse Ope. Sy het vroeër vanjaar van kraamverklof teruggekeer. Kvitova het die grasbaan-Grand Slam-toernooi in 2011 en weer in 2014 gewen, maar weens haar afwesigheid en beserings het haar posisie op die wêreldranglys getuimel van tweede in Oktober 2011 na die huidige 572ste.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-77-sent teen die dollar, 20-rand-83-sent teen die euro en 24-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-840-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-280-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….