Nuus 13:00
BULLETIN 30 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Twee voormalige Transnet-hoofde word aangekeer oor trein-transaksie van miljoene rand
# Nog ‘n kouefront gaan die Wes-Kaap tref
# En kanovaart: Die ikoniese Bergrivier-marathon begin Woensdag
# Twee voormalige Transnet-hoofde, Brian Molefe en Siyabonga Gama, is in hegtenis geneem nadat hulle hulself vanoggend aan die Valke oorgegee het oor ‘n lokomotief-tenderooreenkoms van miljoene rand wat verband hou met staatskaping. Hulle is onder vyf oudbestuurders wat aangekla word vir ‘n betaling aan Trillian Asset Management in 2015. Anoj Singh, Garry Pita en Phetolo Ramosebudi word ook aangekla. Molefe is nou ‘n parlementslid van die MK-party. Hulle staan tereg op aanklag van korrupsie en sal na verwagting later vandag in die hof verskyn.
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, lei vandag ‘n afvaardiging na die vierde Konferensie oor Ontwikkelingsbefondsing in Sevilla, Spanje. Die vierdaagse beraad het ten doel om die wêreld se finansiële stelsels te hervorm en volhoubare ontwikkelingsdoelwitte in te stel. Die minister sê Suid-Afrika sal ook ‘n byeenkoms aanbied oor die volhoubaarheid van skuld vir ontwikkelende lande, wat in ooreenstemming is met G20-doelwitte oor gelykheid en finansiële geregtigheid:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê die koue weer sal vandag in sekere dele van die land voortduur. Suid-Afrika trotseer sedert verlede week lae temperature, winderige toestande en nat weer. Nog ‘n kouefront word Woensdag in die Wes-Kaap verwag. Die Stad Kaapstad se woordvoerder vir Ramp-risikobestuur, Charlotte Powell, sê hulle hou die situasie steeds fyn dop:
# Kanovaart: Vanjaar se Bergrivier-marathon gaan volgens aanduidings die beste in jare wees, met twee legendariese roeiers wat die nuwe geslag die stryd aansê. Die verdedigende kampioen en kano-bouer van Knysna, Tom Lovemore, is terug as een van die gunstelinge. Die legendes Hank McGregor en Robbie Herreveld – met ‘n gesamentlike ouderdom van 100 en altesaam 19 oorwinnings tussen hulle – kan egter ‘n struikelblok wees in Lovemore se vaarwater op pad na nóg ‘n oorwinning. Die wedvaart begin Woensdagoggend in die Paarl en eindig Saterdag by Velddrif.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-77-sent teen die dollar, 20-rand-85-sent teen die euro en 24-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-628-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-286-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-78-sent per vat.
# En laastens, Beyoncé moes haar vertoning in Houston onderbreek toe die motor waarin sy gesit het, in die lug begin kantel het. Die rooi Cadillac, wat aan kabels hang, dra die superster teen die einde van haar vertoning hoog bo haar bewonderaars. Tydens die naweek se vertoning het dit begin kantel en die 43-jarige sangeres moes aan ʼn vlagpaal vashou vir ondersteuning. Beyoncé se maatskappy, Parkwood Entertainment, sê in ʼn verklaring dis deur ʼn tegniese probleem veroorsaak. Sy is vinnig laat sak en die vertoning het sonder voorval voortgegaan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….