Nuus 08:00
BULLETIN 29 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA dreig met ‘n mosie van wantroue teen Cyril Ramaphosa en onttrek uit die Nasionale Dialoog
# Iran begrawe bevelvoerders en wetenskaplikes wat in die oorlog met Israel gesneuwel het
# En in rugby, die Bokke druk agt drieë in hul oorwinning oor die Barbarians in Kaapstad
# Die DA sê die party oorweeg ‘n mosie van wantroue teen president Cyril Ramaphosa en beskuldig hom dat hy ministers beskerm wat van korrupsie aangekla is. Die DA-leier John Steenhuisen het ook die party se onttrekking aan die Nasionale Dialoog aangekondig en noem dit ‘n verkwistende ANC-verkiesingsfoefie. Dit volg na die afdanking van die voormalige adjunkminister van Handel en Nywerheid, Andrew Whitfield, na ‘n ongemagtigde VSA-reis. Steenhuisen sê die dialoog is nou ‘n mors van tyd en waarsku Ramaphosa sy leierskap van die regering van nasionale eenheid is in gevaar:
Intussen het Steenhuisen ook gesê die party is moeg daarvan om deur die ANC geminag te word, en beskuldig hom van arrogansie en ondermyning van die Regering van Nasionale Eenheid. Steenhuisen het verwys na president Cyril Ramaphosa se eensydige besluite, waaronder die afdanking van die voormalige adjunkminister van Handel en Nywerheid, Andrew Whitfield, en die beskerming van korrupte ANC-ministers. Hy beweer die ANC weier om die koalisie se Verklaring van Voorneme te eerbiedig en waarsku die DA sal nie toelaat dat hy uitgesluit word van belangrike besluitneming nie:
# Die Interpol-misdaadambassadeur, Andy Mashaile sê die inhegtenisneming van die hoof van misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo is rede tot ernstige kommer vir wetstoepassing. Khumalo en ses ander is Donderdag in hegtenis geneem op aanklagte van bedrog en korrupsie. Die Pretoria-landdroshof het borgtog van tien-duisand-rand aan vyf van die beskuldigdes toegestaan, terwyl een beskuldigde in aanhouding bly vir soortgelyke aanklagte in ‘n ander saak. Mashaile het aan SABC News gesê dis jammer dat die vertroue in misdaadintelligensie skipbreuk ly:
# Die Stad Tshwane sal vandag die kragtoevoer na die Wapadrand- en Mooikloof-substasies van 9 vm tot 1 nm afskakel. Die stad se woordvoerder, Lindela Mashigo, sê dit vorm deel van die opgradering van die Waltloo-Njala-transmissielyn om die elektrisiteitsvoorsiening na die oostelike netwerk te bestendig. Hy sê tegnici sal nuwe infrastruktuur koppel, skakelstelsels toets en brugstukke installeer tydens die vier uur lange onderhoudsprojek:
# Groot skares roubeklaers het in Iran se hoofstad Teheran saamgedrom vir die begrafnis gister van top militêre bevelvoerders, kernwetenskaplikes en burgerlikes wat tydens Israeliese aanvalle op Iran dood is. Onder die slagoffers was minstens 16 wetenskaplikes en tien senior bevelvoerders, insluitend die hoof van die weermag, generaal-majoor Mohammad Bagheri, die bevelvoerder van die Rewolusionêre Wag, generaal Hossein Salami, en die hoof van die Lugvaarteenheid, generaal Amir Ali Hajizadeh. Volgens staatstelevisie is die begrafnis gehou vir 60 mense wat in die oorlog dood is, insluitend vier vroue en vier kinders.
# En ten slotte rugby: Die Springbokke het weereens bewys hoekom hulle die heersende wêreldkampioen is toe hulle die Barbarians oortuigend met 54 – 7 op ‘n nat veld in Kaapstad geklop het en in die proses agt drieë gedruk het. Die Bokke het van die begin af oorheers met Malcolm Marx wat binne die eerste vyf minute oorgeduik het. Nog sewe drieë het gevolg, twee deur die nuweling-voorspeler Vincent Tshituka. Sacha Feinberg-Mngomezulu het twee drieë verdoel en Manie Libbok vyf. Heelagter Malcom Jaminet het vir die Barbarians ‘n drie gedruk en verdoel. Cheslin Kolbe is as man van die wedstryd aangewys.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….