Nuus 09:00
BULLETIN 28 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die hoof van Misdaadintelligensie en ander gearresteerde offisiere is nog nie geskors nie
# COSATU loof minister Godongwana vir die redding van Ithala Bank
# En die Stad Kaapstad waarsku oor padversperrings tydens die wedstryd tussen die Springbokke en Barbarians
# Die polisiewoordvoerder Athlenda Mathe het bevestig dat die Misdaadintelligensiehoof, Dumisani Khumalo en ses ander senior polisie-offisiere wat verlede week in hegtenis geneem is, nog nie geskors is nie. Hulle het gister in die Pretoriase Landdroshof verskyn op aanklagte wat verband hou met onwettige senior aanstellings in die diens. Mathe sê polisiekommissaris Fannie Masemola wag op ‘n volledige verslag van die Ondersoekdirektoraat voordat hy ‘n besluit neem. Sy sê die Misdaadintelligensie-afdeling is steeds funksioneel en Masemola sal ‘n senior offisier aanstel om die saak intern te ondersoek:
# COSATU het die minister van Finansies, Enoch Godongwana, geprys vir sy ingryping om die likwidasie van Ithala Bank te stop. Die bank van KwaZulu-Natal sou vroeër sluit nadat dit insolvent verklaar is. Werksgeleenthede was in gevaar en meer as 257-duisend kliënte was in die gedrang. COSATU-woordvoerder Zanele Sabela sê hulle was teen die sluiting oor die uitwerking op werkers en die gemeenskap. Sabela het ‘n beroep gedoen vir ‘n volhoubare omkeerstrategie om die bank se lewensvatbaarheid en voldoening aan regulasies te verseker:
# Die Nasionale Seereddingsinstituut vra kusgemeenskappe en seevaarders om versigtig te wees te midde van rowwe seetoestande en sterk wind wat die suide van die Wes-Kaap die naweek gaan tref. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku teen golwe van tot ses meter en gevaarlike toestande wat na die Suid-Kaap en Ooskus sal versprei. Die instituut se woordvoerder, Craig Lambinon, sê verskeie reddingsoperasies is hierdie week uitgevoer maar geen ernstige beserings is tot dusver aangemeld nie:
# Oslo se polisie het klagtes aangekondig teen die oudste seun van kroonprinses Mette-Marit van Noorweë, Marius Borg Høiby [Hui-bie]. Hy is onder verdenking sedert hy verlede jaar herhaaldelik in hegtenis geneem is vir beweerde verkragting, liggaamlike besering en opsetlike saakbeskadiging. Polisiebeamptes sê Høiby het saamgewerk tydens polisie-ondervraging, wat nou voltooi is. Hy het in die openbare oog grootgeword en dieselfde rykdom en voorreg as sy koninklike sibbe geniet, hoewel sy biologiese pa tronkstraf uitgedien het vir dwelmgebruik en geweldsmisdaad. Høiby het kokaïen-gebruik en verslawing erken.
# Sokker: Stygende temperature by die huidige Klubwêreldbeker in Amerika het gelei tot kommer oor die vroeë wedstryde in die Wêreldbeker volgende jaar. Die Wêreldbeker is uitgebrei van 32 tot 48 spanne wat logistieke uitdagings vir die organiseerders inhou. Tydens die klubtoernooi hierdie week was wedstryde wat drie-uur in die middag begin het, weens ‘n hittegolf gespeel in temperature van meer as 32 grade Celsius, Die spelersorganisasie FIFPRO het organisasies wêreldwyd versoek om afskoptye te heroorweeg en is verlig oor die bykomende afkoelpouses in wedstryde.
# En ten slotte: Die Stad Kaapstad het motoriste en rugbyliefhebbers gewaarsku oor padversperrings naby Groenpunt en Grangerbaai. ‘n Skare van 40-duisend toeskouers word vandag by die Kaapstad Stadion verwag wanneer die Springbokke die Barbarians vir die eerste keer op Suid-Afrikaanse bodem kragte meet met die Qatar Airways-beker op die spel. Dit is die begin van die Springbokke se internasionale seisoen vir die jaar. Die Stad Kaapstad moedig toeskouers aan om van die MyCiTi-pendeldienste en parkeer-en-ry-fasiliteite gebruik te maak. Die hekke maak vanmiddag 12-uur oop.