Nuus 18:00
BULLETIN 27 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshof bekragtig die skorsing van die Padongelukkefonds se uitvoerende hoof
# Twee Gautengse leerders wat beskuldig word van moord op ‘n mede-leerder bly in aanhouding
# En tennis: Wimbledon raak ook ontslae van lynregters
# Die dringende hofaansoek van die uitvoerende hoof van die Padongelukkefonds, Collins Letsoalo, teen sy skorsing is met koste van die hand gewys in die Hooggeregshof in Pretoria. Regter Graham Moshoana het beslis dat die fonds se besluit wettig en redelik was. Letsoalo is geskors omdat hy die Parlement se staande komitee oor Openbare Rekeninge misken het. Die hof het geen regsgronde vir sy aansprake gevind nie, sy beweerde reg op heraanstelling van die hand gewys, en sy versuim gekritiseer om die minister van Vervoer, Barbara Creecy, by die aansoek te betrek.
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het jongmense versoek om die toekoms van Afrika te lei met waardes soos solidariteit, gelykheid en volhoubaarheid. Gwarube het op die G20-jeuggesprek in Benoni, Gauteng, die jeug aangespoor om aktiewe burgers te wees en vanaf skoolvlak gemeenskappe te vorm deur leierskap. Sy het die belangrikheid van die jeug se stemme in wêreldwye gesprekke beklemtoon en leerders aangemoedig om beheer te neem oor die bou van ‘n veilige, verenigde wêreld:
# Twee leerders van die Lesedi Secondary School in Lethabong, oos van Pretoria, bly in aanhouding nadat hulle in die Landdroshof in Bronkhorstspruit verskyn het vir die beweerde moord op ‘n graad tien-leerder, Lethabo Mokonyane. Die streekwoordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Lumka Mahanjana, sê die graad tien- en 12-leerders het Lethabo na bewering vroeër die maand met ‘n mes gesteek ná ‘n bakleiery by die skool:
# Die DA in Noordwes beweer die onderburgemeester van Tshwane en burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Eugene Modise, skuld die Noordwes-behuisingskorporasie 12,5-miljoen-rand in onbetaalde huur vir die Morula Sun-eiendom. Die eiendom word blykbaar deur sy onderneming Mzanzi Resorts gehuur. Die DA-lid, CJ Steyl, sê die huurkontrak het in 2019 teen 150-duisend-rand per maand begin en is verleng tot 2026 ondanks agterstallige skuld. Steyl het versoek dat ondersoek ingestel word en beskuldig Modise daarvan dat hy ‘n mislukte ANC-gekoppelde provinsiale instelling uitbuit.
# Tennis: ‘n Nuwe era breek Maandag op Wimbledon aan wanneer die beroemde grasbaantoernooi die eerste keer in sy geskiedenis van 148-jaar sonder lynregters sal klaarkom. Hulle word vervang deur die elektroniese stelsel wat reeds gebruik word deur twee ander Grand Slam-toernooie, die Amerikaanse en die Australiese Ope. Die toernooidirekteur, Jamie Baker, sê hulle moet Wimbledon se eeue-oue tradisies met vernuwing balanseer, maar steeds daarop bedag wees om sy erfenis te beskerm, soos die reël dat spelers oorwegend wit klere moet dra.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-83-sent teen die dollar, 20-rand-91-sent teen die euro en 24-rand-45-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-588-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-267-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….