Nuus 08:00
BULLETIN 9 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# OUTA beloof om enige regstappe oor sy korrupsiebewerings teen NSFAS te verdedig
# Minister Mchunu sê die waterprobleme in eThekwini is te wyte aan swak bestuur
# En gholf, Tiger Woods se vennootskap van byna drie dekades met Nike is beëindig
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê hy sal enige regsoptrede verdedig wat die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Blade Nzimande teen hom instel. Dit volg nadat die organisasie beweer het die minister en die voorsitter van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir studente, Ernest Khosa, was betrokke by korrupsie by die hulpskema. Nzimande ontken die bewerings en sê hy oorweeg regsoptrede. Outa sê hy sien uit dat president Cyril Ramaphosa ‘n breër omvang aankondig vir die NSFAS-ondersoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid.
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta sê die Nasionale Finansiële Hulpskema moenie ontspoor oor die Organisasie teen Belastingmisbruik se bewerings nie. Daar word beweer dat diensverskaffers wat tenders van ʼn multimiljoen-rand ontvang het om NSFAS se omstrede nuwe regstreekse betalingstelsel te administreer, gunsloon betaal het aan die minister van Hoër Onderwys en Opleiding Blade Nzimande, NSFAS se raadsvoorsitter Ernest Khosa, en die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty. Makaneta sê NSFAS moet fokus om fondse aan studente te betaal aangesien die akademiese jaar binnekort begin:
# Die minister van Water en Sanitasie, Senzo Mchunu, sê swak bestuur in die eThekwini-munisipaliteit het verhoed dat probleme in die waternetwerk proaktief opgelos word. Die departement wil hê Umngeni-uThukela Water moet tien van eThekwini se wateraanlegte oorneem. Volgens die minister verteenwoordig dit 90-persent van die stad se rioolverwerking. Mchunu het aan Newzroom Afrika gesê eThekwini se water-infrastruktuur moet herstel word:
# Oudpresident Donald Trump van Amerika gaan vandag probeer om die strafregtelike samesweringsaak teen hom in Georgia deur die Amerikaanse Appèlhof in die Distrik van Columbia te laat uitgegooi. Sy prokureurs voer aan hy behoort vryskelding te geniet omdat hy tydens die vermeende misdade president was. Trump staar vier aanklagte in die gesig wat verband hou met inmenging by ʼn verkiesing, sameswering om Amerika te bedrieg, sameswering om amptelike prosesse te keer en obstruksie en sameswering teen die reg om te stem en stemme te laat tel. Die voormalige president ontken alle aanklagte.
# Gholf: Die vyftienmalige major-kampioen, Tiger Woods, en sportdrag-reus Nike het hulle vennootskap na meer as 27 jaar beëindig. Die 48-jarige Woods het Nike gedra sedert hy as 20-jarige ʼn beroepspeler geword het. Hy het sowat 12.28-miljard-rand uit die vennootskap met Nike gemaak. Nike sê deur die loop van die vennootskap het Woods nie net die gholf as sport herdefinieer nie, maar vir alle sport grense oorgesteek. Woods het laat blyk die Genesis-uitnodigingstoernooi volgende maand is moontlik sy eerste toernooi van die jaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-57-sent teen die dollar, 20-rand-36-sent teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 47-duisend-3-dollar-39-sent. Die prys van goud is twee-duisend-34-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….