Nuus 14:00
BULLETIN 27 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Verdediging verseker die Weermag se vermoë ondanks begrotingsbeperkings
# Indië verwerp die Verenigde Nasies se aanbod om die dodelike lugramp te help ondersoek
# En sokker: Vinicius Junior skitter vir Real Madrid, wat deurdring na die ronde van 16 van die Klub-Wêreldbekertoernooi
# Die minister van Verdediging, Angie Motshekga, herbevestig die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag is gereed om die land se soewereiniteit te verdedig ondanks fiskale beperkings en verouderende toerusting. Die departement werk nou saam met die Tesourie en die Presidensie om die Lugmag se vermoë te verbeter, insluitend die voortgesette onderhouding van vliegtuie en verkrygingspogings. Mothshekga erken daar is uitdagings, maar sê die Weermag is nie heeltemal wanfunksioneel nie. Sy sê daar word hard gewerk om kop bo water te hou, in die lug te bly en uitdagings te trotseer.
# Die metaalwerkersvakbond NUMSA sê hy is nie bewus van moontlike afleggings by die staatsbeheerde lugvaartmaatskappy Denel as deel van sy omkeerstrategie nie. Denel se uitvoerende hoof, Tshepo Monaheng, het verlede week aan die Parlement gesê die instelling bly onder druk weens skuld en oorweeg afleggings en die verkoop van sekere bates om sy kontantreserwes aan te vul. Numsa se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê Denel moet met die betrokke partye beraadslaag voor hy enige aankondigings oor werksverliese maak:
# Indië het die betrokkenheid van ‘n Verenigde Nasies-lugvaartondersoeker by die ondersoek na die dodelike Air India-lugramp in Ahmedabad geweier. Twee-honderd-en-sewentig mense is in die ongeluk dood. Die Internasionale Burgerlugvaartorganisasie het waarnemerstatus vir een van sy deskundiges versoek, maar die Indiese owerhede het dit van die hand gewys. Indië se Ondersoekburo vir Vliegongelukke lei die ondersoek deur ‘n multidissiplinêre span, wat verteenwoordigers van die Amerikaanse Nasionale Vervoerveiligheidsraad insluit. Die vlugopnemer word tans ontleed om te bepaal hoekom die Boeing 787-8 Dreamliner op 12 Junie neergestort het.
# Sokker: Vinicius Junior het ‘n sprankelvertoning gelewer met ‘n doel en ‘n bystand-doel toe Real Madrid sy plek in die laaste 16 van die Klub-Wêreldbekertoernooi beklink het met ‘n oorwinning van 3-0 oor Salzburg. Gonzalo Garcia het die oorwinning laat in die wedstryd verseker met sy tweede doel van die toernooi. Dit beteken Xabi Alonso se span het die eerste ronde onoorwonne afgesluit. Hulle vorder na die uitklopronde as wenner van Groep H met sewe punte en speel Dinsdag in Miami teen Juventus.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-90-sent teen die dollar, 20-rand-95-sent teen die euro en 24-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-98-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-286-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-97-sent per vat.
# En laastens, altesaam 92-persent van Johannesburg se inwoners het kommer uitgespreek oor lugbesoedeling en 78-persent glo dit beïnvloed hul gesondheid negatief. Dis volgens nuwe inligting van die metro se Departement van Omgewings- en Infratruktuur-dienste, in samewerking met Breath Cities en die Clean Air Fund. Die metrowoordvoerder, Virgil James, sê al die deelnemers het fossielbrandstofverbruik, vrylating van voertuiggasse en die verbrand van afval, as die hoofoorsake van swak luggehalte uitgelig:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….