Nuus 11:00
BULLETIN 27 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola is bekommerd oor toenemende wêreldwye spanning
# Kanada se Parlement keur ’n wetsontwerp goed om afhanklikheid van Amerika te verminder
# En rugby: Kolisi onttrek aan môre se wedstryd teen die Barbarians
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, waarsku die huidige wêreldwye momentum van wedywering ondersteun die versplintering van ekonomieë en konflik wat wêreldvrede bedreig. Hy het ‘n hoëvlak-vergadering toegespreek op die derde G20-sjerpa-byeenkoms in Noordwes. Lamola sê ingewortelde uitdagings moet aandag kry om ‘n wêreldwye beredeneerde benadering terug te eis wat op bestendigheid, vrede, sekerheid en volhoubaarheid bou:
# Die EFF verwerp die aanstelling van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie se raad en sê dis ‘n voorbeeld van begunstiging en ʼn teken van voortgesette korrupsie. Die party het die aanstelling van Ayanda Dlodlo, Nomusa Dube-Ncube en Sydney Mufamadi veroordeel en sê dit wys hoe die ANC voortgaan om staatsinstellings te kaap deur politieke trou eerder as bevoegdheid te beloon. Die EFF sê die kaping van die NOK-raad is ʼn poging om ANC-beheer te behou en voort te gaan om staatsinstellings as persoonlike kitsbanke te gebruik.
# Die Vrystaatse polisie het bevestig dat ‘n graad 11-leerder van die Martie du Plessis Skool in Bloemfontein, Kamogelo Baukudi, vanoggend lewend gevind is in Wepener. Twee mans wat voorgegee het om polisiebeamptes te wees, het hom op 5 Junie ontvoer terwyl hy langs Vereeniging-rylaan van die skool af huis toe gery het. Polisiewoordvoerder, Motantsi Makhele, sê Kamogelo is na ‘n gekoördineerde reddingsoperasie gevind:
# Die Kanadese Parlement het die One Canadian Economy Act goedgekeur wat beoog om handelsgrense te verwyder, nasiebouprojekte te bevorder en ekonomiese groei te laat opvlam. Die wetgewing word gesien as ‘n manier om die tariewe van die Amerikaanse president, Donald Trump, teen te staan. Trump het die tariewe op Kanadese staal, aluminium en sy motorsektor ingestel. Eerste minister Mark Carney sê die regering sal nou die mag hê om projekte van nasionale belang goed te keur:
# Rugby: Springbokafrigter Rassie Erasmus moes noodgedwonge ‘n laat verandering aan sy span aanbring vir môre se wedstryd teen die Barbarians in Kaapstad. Kaptein Siya Kolisi moes onttrek weens ‘n ligte besering en Jesse Kriel sal die span aanvoer. Erasmus het Marco van Staden in Kolisi se plek in die opdrafspan gekies, en hy sal saam met Vincent Tshituka en Jean-Luc du Preez die losvoorspelers wees. Die res van die span bly dieselfde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-77-sent teen die dollar, 20-rand-24-sent teen die euro en 24-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-483-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-288-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 67-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….