Nuus 06:00
BULLETIN 27 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA stel ‘n 48-uur ultimatum vir Cyril Ramaphosa oor die afdanking van Andrew Whitfield
# Agt LP’s word beboet omdat hulle nie hul finansiële en ander belange ingedien het nie
# En krieket: Lhuan-dré Pretorius kan sy T20-debuut vir die Proteas in Zimbabwe maak
# Die leier van die DA, John Steenhuisen, het president Cyril Ramaphosa 48-uur gegee om ANC ministers en adjunkministers wat by staatskaping-korrupsie betrek is, af te dank. Die volg na die skielike afdanking van die adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Andrew Whitfield. Steenhuisen sê Whitfield is onregverdig laat gaan oor ‘n geringe reiskwessie, al het hy die voorgeskrewe stappe gevolg. Die DA se nasionale woordvoerder Willie Aucamp beskuldig Ramaphosa dat hy die DA teiken terwyl die minister van Menslike Nedersettings, Thembi Simelane wat met die VBS-plundering verbind word, steeds in die Kabinet is:
Die DA sê intussen Ramaphosa bedreig die bestendigheid van die koalisie nadat hy Whitfield van die DA afgedank het. Steenhuisen sê die afdanking was polities gemotiveerd en demonstreer dubbele standaarde. Hy waarsku dat sodanige optrede spanning binne die regering van nasionale eenheid kan vererger en vra Ramaphosa om verantwoordelik op te tree om eenheid te behou:
# Die Nasionale Vergadering het die verslag van die Gesamentlike Komitee oor Etiek en Ledebelange oor die nie-openbaarmaking van ledebelange vir 2024 aanvaar. Die komitee het bevind dat agt lede van die Parlement die Kode van Etiese Gedrag en Openbaarmaking van Ledebelange oortree het. Dit is omdat hulle nie hul finansiële en ander registreerbare belange teen die sperdatum ingedien het nie. Die individue wat oortree het, sluit in ses ANC-lede en een elk van die IVP en die MK-party. Hulle is elk met tienduisend rand beboet en het ‘n berisping in die Huis ontvang.
# Die Gautengse Onderwysdepartement het die hoof van die Hoërskool Waterkloof voorlopig oorgeplaas ná bewerings van inmenging met ’n getuie. Hy sal vandag by die Tshwane-Suid Distrikskantoor aanmeld hangende die uitslag van ‘n dissiplinêre proses. Die departementele woordvoerder, Steve Mabona, sê die saak oor bewerings van ernstige wangedrag word deur die Onderwysraad vir Arbeidsverhoudinge hanteer:
# Die Amerikaanse minister van Verdediging, Pete Hegseth, hou vol die Amerikaanse aanvalle op Iranse kernterreine was ‘n sukses. Hy het die media uitgetrap omdat hulle die sukses van die operasie bevraagteken. Hegseth het by die Pentagon aan joernaliste gesê, Trump het die voorwaardes geskep om die oorlog te beëindig deur Iran se kernvermoëns te vernietig, uit te wis of te verminder. Trump het gister volgehou dat Iran nie kernmateriaal, insluitend verrykte uraan, voor die Amerikaanse militêre optrede verskuif het nie.
# Krieket: Rassie van der Dussen voer die Proteas aan in volgende maand se driehoekige T20-reeks teen die gasheer, Zimbabwe, en Nieu-Seeland. Die gereelde kaptein, Aiden Markram, asook Ryan Rickelton, Tristan Stubbs, David Miller, Marco Jansen, Kagiso Rabada en Keshav Majaraj kry ‘n ruskans, terwyl Anrich Nortjé beseer is. Die kolwer Lhuan-dré Pretorius kan moontlik sy T20-buiging vir Suid-Afrika maak na sy indrukwekkende spel gedurende die SA20. Dis Shukri Conrad se eerste witbal-ondervinding na sy onlangse aanstelling as afrigter in al drie formate.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-84-sent teen die dollar, 20-rand-86-sent teen die euro en 24-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-29-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-322-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….