Nuus 17:00
BULLETIN 26 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet bevestig geen begroting is nog goedgekeur vir nasionale dialoog nie
# Iran se opperleier sê hulle het die oorlog gewen en Amerika verneder
# En rugby: Twee Wallabies word vir die Reds vrygestel na ‘n vergadering tussen Australië en die Leeus
# Die kabinet sê geen begroting is nog goedgekeur vir die komende nasionale dialoog nie. Dit volg op groeiende openbare kommer oor berigte van kosteberamings vir die geleentheid. Die minister in the Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die voorgestelde befondsing het nie deur die normale regeringsbegrotingsproses gegaan nie. Sy sê dis ook nog nie deur die tussenministeriële komitee onder voorsitterskap van adjunkpresident Paul Mashatile oorweeg nie:
ActionSA sê intussen president Cyril Ramaphosa moet al 42 adjunkministers afdank en nie net een nie. Dit volg op Ramaphosa se besluit om Andrew Whitfield van die DA af te dank as adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging. ActionSA sê die president het ‘n belangrike geleentheid misgeloop om ministers wat aan korrupsie of swak prestasie gekoppel is te verwyder, insluitend Ntshavheni, Nobuhle Nkabane en Thembi Simelane. Woordvoerder Athol Trollip sê die huidige kabinet is opgeblaas en ondoeltreffend.
# Die DA in Gauteng het die provinsiale Onderwysdepartement veroordeel oor onbetaalde rekeninge nadat 525 skole sonder elektrisiteit of water gelaat is. Sergio Isa dos Santos van die DA sê 398 geen-fooi skole is die ergste geraak, met sommige leerders wat langer as ‘n maand in die donker en in onveilige omstadighede moes leer. Hy vra ‘n taakspan moet geskep word om rekeninggeskille op te los en toekomstige onderbrekings te voorkom:
# Die opperleier van Iran, ajatollah Ali Khamenei, sê Amerika het niks gebaat by sy aanval op die Islamitiese Republiek tydens die 12-daagse oorlog met Israel waarin sy kernaanlegte geteiken is nie. Hy sê in ‘n verklaring aan staatsmedia Amerika het regstreeks tot die oorlog toegetree want hy was oortuig Israel sou sonder sy ingryping heeltemal uitgewis gewees het. Khamenei beweer in st eerste openbare kommentaar sedert Dinsdag se wapenstilstand dat Iran gewen het, en sy vergelding het Amerika ‘n ernstige klap in die gesig gegee.
# Rugby: Die Wallabies se hoofafrigter, Joe Schmidt, het Hunter Paisami en Matt Faessler vrygestel om volgende week vir die Reds te speel teen die Britse en Ierse Leeus. Die besoekers het Australië vroeër gewaarsku hulle kan kontrak breek as hulle toetsspelers verhoed om teen hulle te speel in weekdagwedstryde. Die besluit is geneem gedurende ‘n vergadering tussen die uitvoerende hoofde van Rugby Australië en die Leeus, Phil Waugh en Ben Calveley. Nog ses Reds-spelers bly by die Wallabies vir volgende naweek se opwarmingstoets teen Fidji in Newcastle.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-76-sent teen die euro en 24-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-77-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-323-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….