Nuus 16:00
BULLETIN 26 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA sê Ramaphosa moet al 42 adjunkministers afdank, nie net een nie
# Koue, nat weer duur voort in die Wes-Kaap
# En rugby: O’Mahoney voer die Barbarians aan in die wedstryd teen die Springbokke
# ActionSA sê president Cyril Ramaphosa moet al 42 adjunkministers afdank en nie net een nie. Dit volg op Ramaphosa se besluit om Andrew Whitfield van die DA af te dank as adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging. ActionSA sê die president het ‘n belangrike geleentheid misgeloop om ministers wat aan korrupsie of swak prestasie gekoppel is te verwyder, insluitend Khumbudzo Ntshavheni, Nobuhle Nkabane en Thembi Simelane. Woordvoerder Athol Trollip sê die huidige kabinet is opgeblaas en ondoeltreffend.
Die kabinet sê intussen die 70ste herdenking van die Vryheidsmanifes dien as ‘n herinnering van die land se lang stryd vir ‘n vrye, gelyke en regverdige samelewing. Die manifes, wat op 26 Junie 1955 in Kliptown, Soweto, aangeneem is, het die grondslag vir die land se demokrasie gelê. Minister Ntshavheni het op ‘n nuuskonferensie gesê die dokument bied steeds riglyne oor hoe om ongelykheid aan te pak en menseregte te bevorder:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, sê rampspanne bly op ‘n hoë gereedheidsgrondslag met die koue, nat weer wat in die provinsie voortduur. Hy sê vloedgeteisterde gebiede is steeds in gevaar, aangesien Vlak 4-waarskuwings vir skadelike golwe en Vlak 2-waarskuwings vir reën en wind steeds van krag is. Die direkteur van Rampbestuursoperasies, Sonja Chinnian, versoek inwoners om binnenshuis te bly en veiligheidsriglyne te volg:
# Rugby: Die Ierse legende Peter O’Mahony is Saterdag die Barbarians se kaptein in sy laaste wedstryd wanneer hulle die Springbokke in Kaapstad pak. Die ander twee losvoorspelers is die gewese All Black-kaptein, Sam Cane, en Shannon Frizell. Ruben van Heerden van die Stormers en David Ribbans van Engeland is die slotte en Tawera Kerr-Barlow en Josh Jacomb die skakelpaar. Die Nieu-Seelanders Peter Umaga-Jensen en Leicester Fainga’anuku is die senters en Jacob Ratumaitavuki-Kneepkins en Mark Tele’a die vleuels. Malvyn Jaminet van Frankryk is die heelagter.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-76-sent teen die dollar, 20-rand-79-sent teen die euro en 24-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-261-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-341-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-78-sent per vat.
# En laastens, die Britse liefdadigheidsorganisasie The Donkey Sanctuary sê amper ses-miljoen donkies word jaarliks geslag vir Chinese medisyne, met ernstige gevolge vir dorpsbewoners in Afrika wat op die diere staatmaak. Die behoefte word aangevuur deur die verhoging in China se vervaardiging van ‘n gesondheidsaanvulling wat kollageen uit donkievelle bevat. China se donkie-bevolking het van 11-miljoen in 1992 tot 1,5-miljoen in 2023 getuimel en die land keer homself nou na Afrika vir voorraad. Die Afrika-Unie het verlede jaar ‘n moratorium van 15-jaar op die slag van donkies geplaas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….