Nuus 06:00
BULLETIN 26 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering van nasionale eenheid aanvaar die Mediumtermyn-ontwikkelingsplan
# President Ramaphosa herbevestig Suid-Afrika se verbintenis tot swart ekonomiese bemagtiging
# En BOSA eis dringende optrede oor die tekort aan polisiespeurders
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika bly gebonde aan swart ekonomiese bemagtiging, ten spyte daarvan dat Amerika op ander sake fokus. Ramaphosa het aan die Nasionale Raad van Provinsies gesê regstelling en billikheid is grondwetlike vereistes, aangesien SEB noodsaaklik is vir inklusiewe, volhoubare groei, en moet alle Suid-Afrikaners betrek. Hy bevestig beleid word hersien om toegang tot finansiering uit te brei om burgers wat voorheen uitgesluit is, in die ekonomiese hoofstroom in te bring:
Die regering van nasionale eenheid het intussen ‘n Mediumtermyn-ontwikkelingsplan aanvaar. Ramaphosa het aan die raad gesê die sukses van die plan sal afhang van samewerking tussen die regering, die sakewêreld, arbeid en die burgerlike samelewing. Ramaphosa het verduidelik meesterplanne rondom maatskaplike ooreenkomste het reeds die motorbedryf, suiker en tekstielware ‘n hupstoot gegee. Hy beklemtoon die Nasionale Dialoog is van stapel gestuur om gedeelde patriotisme binne die beginsels van die Grondwet aan te wakker:
# Build One South Africa het ‘n dringende oudit aangevra oor wetstoepassingsvermoëns nadat die minister van Polisie, Senzo Mchunu, onthul het daar is ‘n tekort van twee-duisend-344 speurders in die land. Die BOSA-leier, Mmusi Maimane, sê hierdie tekort vererger misdaad, met onopgeloste sake en misdadigers wat los loop. Die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal word die ergste geraak. Hy doen ‘n beroep op onmiddellike werwing, beter hulpbronne en ‘n openbare stelsel om agterstande aan te pak en aanspreeklikheid te verseker.
# Die DA in Johannesburg sê die partye in die raad het raadsposisies bo beginsels gekies met hul stem teen ‘n mosie van wantroue in burgemeester Dada Morero. Altesaam 144 raadslede, insluitend van die ANC en EFF, het teen die mosie gestem, terwyl 75 ten gunste was en 43 buite stemming gebly het. Belinda Kayser-Echeozonjoku van die DA sê geen hoeveelheid poetsery deur ‘n mislukte uitvoerende gesag kan Johannesburg se verrotting en agteruitgang verberg nie, maar die inwoners sal dit nie vergeet nie:
# Die Libanese gewapende groep Hezbolla het sy bondgenoot Iran se oorwinning oor Israel geprys ná 12 dae van oorlog, en noem dit die begin van ‘n “nuwe geskiedkundige fase”. Hezbollah het die Islamitiese Republiek in ‘n verklaring opreg gelukgewens en geprys oor sy “glorieryke goddelike oorwinning”. Die groep sê die oorwinning is verpersoonlik deur die presiese en dodelike aanvalle teen Israel, en sy blitsige optrede in reaksie op die Amerikaanse aggressie teen sy kernfasiliteite.
# Rugby: Die Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê die flambojante losskakel, Sacha Feinberg-Mngomezula, hoef nie elke keer wondere te verrig op die veld nie. Die jong speler sal Saterdag teen die Barbarians die nommer 10-trui dra, met die meer ervare Manie Libbok op die bank. Die veteraan Handré Pollard speel nie hierdie week nie. Erasmus sê die 23-jarige Feinberg-Mngomezula, wat nog net agt toetse gespeel het, leer nog en moet nog balans in sy spel kry.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-68-sent teen die euro en 24-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-297-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-336-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….