Nuus 17:00
BULLETIN 25 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA dring aan op duidelikheid oor die minister van Verdediging se omkeerplan
# Onwettige dobbelary neem toe in Gauteng
# En sokker: Alles is vanaand op die spel vir Mamelodi Sundowns
# Die DA sê die minister van Verdediging, Angie Motshekga, moet dringend lig werp op haar omkeerplan van drie-maande om die ineenstorting van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag te keer. Die party voer aan dit lyk of Motshekga uit voeling is met die Weermag se krisis en aanhoudend luukse uitgawes verdedig terwyl kritieke bedrywighede onderbefonds word. Nicholas Gotsell van die DA sê onlangse verslae van Krygkor dui groot tekorte in die Lugmag se befondsing aan terwyl militêre hospitale misluk:
# Suid-Afrika bied die derde G20-sjerpabyeenkoms by Sun City in Noordwes aan onder voorsitterskap van die direkteur-generaal van Internasionale Betrekkinge, Zane Dangor. Afgevaardigdes van G20-nasies bevorder onderhandelinge voor November se spitsberaad. Dangor het die noodsaaklikheid van praktiese oplossings beklemtoon en die belangrikheid erken om geopolitieke spanning aan te pak. Hy het die sjerpas aangemoedig om besprekings gegrond op die Verenigde Nasies se beginsels te lei terwyl tegniese werkgroepe op ekonomiese samewerking en volhoubare ontwikkelings-voorkeure fokus:
# Die Gautengse Dobbelraad waarsku oor die toenemende bedreiging van onwettige dobbelary in die provinsie. Die bedrywighede kan spelers geld laat verloor of hulle kan strafregtelik aangekla word. Dit sluit in ongelisensieerde aanlyn dobbelwebwerwe tot agterdeur-casino’s en straatdobbelary. Die raad sê slegs gelisensieerde casino’s, aanlyn platforms en dobbellokale is wettig. Hy sê ongereguleerde plekke oortree belastingwette en dit hou aansienlike gevare in soos geld wat vermis raak, deelname van minderjariges en risiko-gedrag.
# Sokker: Mamelodi Sundowns se droom om die laaste-16 van die FIFA Klub-Wêreldbekertoernooi te bereik, is vanaand in die weegskaal wanneer hulle teen die Brasiliaanse reus, Fluminense, speel in ‘n deurslaggewende Groep F-wedstryd in Amerika. ‘n Oorwinning sal verseker dat hulle deurgaan, maar as Dortmund met Ulsan HD afreken, sal ‘n gelykop-uitslag moontlik nie genoeg wees nie Fluminense het slegs een punt nodig om deur te dring en afrigter Renato Gaucho sal tevrede wees met ‘n gelykop-uitslag. Sundowns se breier, Miguel Cardoso, sê egter hulle speel om te wen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-83-sent teen die dollar, 20-rand-68-sent teen die euro en 24-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-869-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-316-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-55-sent per vat.
# En laastens, orkas in die Noordelike Stille Oseaan is waargeneem terwyl hulle mekaar masseer deur stukke kelp tussen hul lywe te vryf. Navorsers het hommeltuie gebruik om hierdie gedrag te verfilm en dink die massering is miskien vir gesondheids- of higiëniese redes. Hulle glo ook dat dit moontlik ‘n manier van sosiale interaksie is terwyl dit ook ‘n voorbeeld kan wees van hoe moordwalvisse gereedskap aanwend. Die orkas is vir ‘n periode van 12-dae in die water van die Staat Washington waargeneem en in dié tydperk het navorsers 30 gevalle van kelp-massering gesien.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….