Nuus 16:00
BULLETIN 25 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika bied die derde G20-sjerpavergadering aan te midde van ‘n strewe na praktiese wêreldoplossings
# ‘n Ontvoerde vrou van Gqeberha is veilig herenig met haar gesin
# En tennis: ‘n Standbeeld van Andy Murray gaan op Wimbledon opgerig word
# Suid-Afrika bied die derde G20-sjerpabyeenkoms by Sun City in Noordwes aan onder voorsitterskap van die direkteur-generaal van Internasionale Betrekkinge, Zane Dangor. Afgevaardigdes van G20-nasies bevorder onderhandelinge voor November se spitsberaad. Dangor het die noodsaaklikheid van praktiese oplossings beklemtoon en die belangrikheid erken om geopolitieke spanning aan te pak. Hy het die sjerpas aangemoedig om besprekings gegrond op die Verenigde Nasies se beginsels te lei terwyl tegniese werkgroepe op ekonomiese samewerking en volhoubare ontwikkelings-voorkeure fokus:
# ‘n Vrou van Gqeberha is in die vroeë oggendure gered en met haar gesin herenig nadat sy Saterdagoggend ontvoer is op die Markman-varsproduktemark in Nelson Mandelabaai. Lindsay Knowlden se man is tydens die voorval met ’n pistool aangerand en het ‘n snywond aan sy oog opgedoen. Sy is in Kwanoxolo naby Bethelsdorp gevind waar sy ongeskonde afgelaai is ná haar beproewing van 89-uur. Ondersoeke duur voort en die owerhede moedig mense met inligting aan om na vore te kom.
# Verskeie Eurostar-treine tussen Londen en Parys is vandag gekanselleer nadat meer as 600-meter kabel in Noord-Frankryk opsetlik beskadig of gesteel is. Die uitwerking hiervan is hoofsaaklik op hoëspoed-treinverkeer. Luidens die Eurostar-webwerf is ses treinritte tussen Londen en Parys, drie in elke rigting, gekanselleer. Verskeie treine tussen Londen en Brussel in België is ook vertraag.
# Tennis: Wimbledon gaan binne die volgende twee jaar ‘n standbeeld van die gewese wêreld-nommer een, Andy Murray, oprig. Hy het in 2013 die eerste Brit in 77-jaar geword om die mans-enkelspel te wen en die prestasie in 2017 herhaal. Voor hom was Fred Perry in 1936 laas die plaaslike kampioen, en is steeds die enigste speler van wie ‘n vollengte standbeeld by die All England Club pryk. Murray se standbeeld sal onthul word wanneer die beroemde grasbaan-Grand Slam-toernooi in 2027 sy 150ste bestaansjaar vier.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-79-sent teen die dollar, 20-rand-63-sent teen die euro en 24-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-en-50-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-325-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-52-sent per vat.
# En laastens, ‘n Amerikaanse kommersiële sending met bemanning vanaf Indië, Pole en Hongarye is vandag op pad na die Internasionale Ruimtestasie. Dit is die eerste keer in dekades dat mense van hierdie lande na die ruimte gestuur word. Die vorige keer wat ruimtevaarders van hierdie lande in die ruimte was, was die huidige span nog nie eers gebore nie. Hulle is ook destyds cosmonauts genoem, omdat hulle almal in Sowjet-ruimtetuie gereis het voor die val van die Ystergordyn. Hulle sal 14 dae op die ruimtestasie bly.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….