Nuus 15:00
BULLETIN 25 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ontvoerde vrou van Gqeberha is veilig herenig met haar gesin
# Namibië hef die verbod op die invoer van Suid-Afrikaanse mieliesaad op
# En rugby: Veertig-duisend toeskouers word verwag by Saterdag se wedstryd tussen die Springbokke en die Barbarians
# ‘n Vrou van Gqeberha is in die vroeë oggendure gered en met haar gesin herenig nadat sy Saterdagoggend ontvoer is op die Markman-varsproduktemark in Nelson Mandelabaai. Lindsay Knowlden se man is tydens die voorval met ’n pistool aangerand en het ‘n snywond aan sy oog opgedoen. Sy is in Kwanoxolo naby Bethelsdorp gevind waar sy ongeskonde afgelaai is ná haar beproewing van 89-uur. Ondersoeke duur voort en die owerhede moedig mense met inligting aan om na vore te kom.
# Suid-Afrika herdenk die aanvaarding van die Vryheidsmanifes 70-jaar gelede, maar belangrike erfenisterreine wat aan die gebeurtenis gekoppel is, val uitmekaar. Die eertydse huis van Zack Matthews en die graf van hoofman Tyali in Alice in die Oos-Kaap, word volgens berigte erg verwaarloos. Matthews het ‘n belangrike rol gespeel in die vorming van die manifes, met ‘n visie vir ‘n vrye en demokratiese Suid-Afrika. Die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, sê deel van die planne om toerisme te bevorder is om die terreine te herstel, maar die proses vereis regeringsgoedkeuring.
# Namibië se Ministerie van Landbou het die tydelike verbod op die invoer en vervoer van mieliesaad uit Suid-Afrika opgehef. Die verbod is ingestel nadat Goss-verwelk, veroorsaak deur ‘n bakteriese patogeen, in invoere opgespoor is. Die ministerie se woordvoerder, Simon Nghipandulwa, sê die nuwe riglyne oor plantgesondheid is ingestel om plantsiektes te voorkom. Invoerders moet nou streng regulasies handhaaf. Hy moedig waaksaamheid aan om Namibië se oes-gesondheid en landbou-volhoubaarheid te beskerm:
# Rugby: Die Stad Kaapstad verwag ‘n vol Kaapstad-stadion vir Saterdag se geskiedkundige kragmeting tussen die Springbokke en die Barbarians. Die wedstryd is die eerste ontmoeting tussen die twee spanne sedert 2016 en die eerste een op Suid-Afrikaanse bodem. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê meer as 40-duisend toeskouers word verwag en dit sal die verkeer beïnvloed:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-78-sent teen die dollar, 20-rand-64-sent teen die euro en 24-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-991-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-326-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-48-sent per vat.
# En laastens, die eThekwini-munisipaliteit sê Afrika se grootste perdewedren- en modegeleentheid, die Durban July, beteken vanjaar ‘n inspuiting van sowat 690-miljoen-rand in die metro se ekonomie. Volgende naweek se geleentheid op die Greyville-renbaan spog met ‘n sterbelaaide program, insluitend die veelbekroonde Afro-pop-duo Mafikizolo, die groep Sunset Sweatshop en die sangeres Lira. Die munisipaliteit se woordvoerder, Gugu Sisilana, sê sektore soos mode en tekstiele, vervoer, restaurante, hare en skoonheid, en ondernemings wat kitskos verkoop, sal by die geleentheid baat vind:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….