Nuus 14:00
BULLETIN 25 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Creecy sê die Tesourie se Infrastruktuurfonds is die sleutel tot Transnet se vragteikens
# China doen ‘n seldsame erkenning dat marteling en onwettige aanhouding in sy regstelsel plaasvind
# En Kaapstad monitor die gevolge van die gure weer
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê die Tesourie se Begrotingsgerief vir Infrastruktuur is die sleutel tot Transnet se spoor- en hawe-opgraderings. Daar word gemik na ‘n jaarlikse vragteiken van 250-miljoen-ton teen 2030. Betrokkenheid van die privaat sektor kan twee jaar neem, maar die 160 navrae toon daar is baie belangstelling. Nege projekte ter waarde van 55,5-miljard-rand is goedgekeur vir vanjaar, met 15,3-miljard-rand van die Tesourie. Daar word ook ‘n Wetsontwerp op Spoorweë en Hawens opgestel om hervormings te versterk ingevolge die Nasionale Spoorbeleid- en Vraglogistiek-padkaart.
# Die polisie sê landwye Vala Umgodi-operasies is gemik op die bestryding van onwettige mynbou en verwante misdadige bedrywighede. Operasies tussen 16 en 22 Junie het gelei tot die aankeer van 142 verdagtes. ‘n Polisiewoordvoerder, Vincent Mukhathi, sê die verdagtes is in hegtenis geneem vir onwettige mynbouverwante oortredings en verskeie ander misdade, insluitend betreding, die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen, besit van ongeslypte diamante en die onwettige besit van plofstof:
# China se hoofaanklaer het ‘n seldsame erkenning uitgereik dat marteling en onwettige aanhouding wel in die land se regstelsel gebeur, en beloof om onwettige gebruike deur wetstoepassers te beëindig. China se ondeursigtige regstelsel word al lank gekritiseer oor beskuldigdes wat verdwyn, die teiken van andersdenkendes en die verkryging van skulderkennings deur marteling. President Xi Jinping het beloof om korrupsie te verminder en deursigtigheid te verbeter. ‘n Nuwe ondersoekdepartement teiken wetstoepassers wat die regte van burgers inperk deur onwettige aanhouding en onwettige deursoekings.
# Krieket: Die ervare Australiese kolwer Usman Khawaja beloof om leiding te gee aan die tiener Sam Konstas wanneer hulle die kolfbeurt open in die eerste toets teen die Wes-Indiese Eilande wat vanag in Bridgetown, Barbados, begin. Die 19-jarige is aangewys in die plek van Marnus Labuschagne, wat uit die span gelaat is na sy swak vertoning in die eindstryd van die Wêreld-toetskampioenskap teen Suid-Afrika in Londen. Die 38-jarige Khawaja het ook gesukkel teen die Proteas, maar glo hy kan die jong aanvangskolwer help met sy nuwe reis.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-74-sent teen die dollar, 20-rand-59-sent teen die euro en 24-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-18-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-326-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-54-sent per vat.
# En ten slotte: Die Stad Kaapstad se Ramprisikobestuursentrum sê hy hou die uitwerking van die huidige gure weerstoestande dop. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n geel vlak 4-waarskuwing uitgereik vir swaar reën tot Vrydag, met ‘n gevaar van plaaslike oorstromings oor die westelike dele van die Wes-Kaap, veral in laagliggende gebiede en gebiede wat swak dreineer. Die sentrum se woordvoerder, Sonica Lategan, sê amptenare is ontplooi om die situasie dop te hou:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….