Nuus 06:00
BULLETIN 25 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Suid-Afrika is verbind tot billike toegang tot gesondheidsorg
# Die hof beveel die polisie om regshulp aan Eugene de Kock te verskaf
# En Donald Trump sê Iran sal nooit weer sy kernprogram herbou nie
# President Cyril Ramaphosa sê die prestasie van die Steve Biko Akademiese Hospitaal gee ‘n blik op die toekoms van die Nasionale Gesondheidsversekering. Hy het gister die Kerngeneeskundige Navorsingsinstelling by die hospitaal in Tshwane besoek. Dié wêreldklas-gerief is aan die voorpunt van die ontwikkeling van kanker- en TB-medisyne, en gebruik gevorderde mediese beeldvorming en kliniese navorsing om innovasie in gesondheidsorg te dryf. Ramaphosa sê Suid-Afrika is verbind tot wetenskaplike innovasie, billike toegang tot gesondheidsorg en geïntegreerde infrastruktuurbelegging:
# Die DA sê sterk toesig en fisiese beheermaatreëls is uiters belangrik in die stryd teen bek-en-klouseer. Alhoewel die party die Departement van Landbou se inentingsprogram verwelkom, waarsku hy dat entstowwe alleen nie die siekte sal keer nie. Willie Aucamp van die DA vra vir streng toepassing van die nuwe regulasies, insluitend vervoerbeperkings en die opspoorbaarheid van vee, wat noodsaaklik is om die rooivleisbedryf te beskerm:
# Die Hooggeregshof in Pretoria het beslis die polisie moet regshulp aan die veroordeelde gewese polisie-kolonel, Eugene de Kock, beskikbaar stel, vir sy rol as getuie in die heropende geregtelike ondersoek na die Cradock Vier. Dit is daarop gemik om vas te stel wie die moord op die anti-apartheidsaktiviste in 1985 beveel het. De Kock se getuienis gaan na verwagting sleutel-besonderhede onthul wanneer hy in Oktober getuig. Hy is voorheen skuldig bevind aan talle moorde en het gedeeltelike amnestie van die Waarheid- en Versoeningskommissie ontvang.
# Die Amerikaanse president Donald Trump sê Iran sal nie weer sy kernprogram kan herbou na Amerika se aanvalle op sy belangrikste kerninstellings die naweek nie. ‘n Broos skietstilstand tussen Israel en Iran het gisteroggend in werking getree. Beide kante het mekaar egter beskuldig dat hulle die ooreenkoms oortree het. Trump het aan verslaggewers aan boord van Air Force One op pad na die NAVO-beraad in Nederland gesê Iran se kernvermoë is weg:
# Rugby: Die Wallabies se hoofafrigter, Joe Schmidt, sê die Britse en Ierse Leeus sal seker ook nie hulle beste spelers vir die weekwedstryde kies gedurende hulle toer in Australië nie. Dit volg nadat die Leeus se uitvoerende hoof, Ben Calveley, die gashere gewaarsku het hulle sal kontrakbreuk pleeg as hulle nie hul toetsspelers vrystel vir hul streekspanne nie. Schmidt wil beserings vermy, want die Wallabies het nie besondere speler-diepte nie, maar sal dit wel oorweeg om nasionale spelers vry te stel vir die Reds en die Waratahs.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-59-sent teen die euro en 24-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-63-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-324-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-60-sent per vat.
# En ten slotte: Die wen-ontwerp vir ‘n nasionale gedenkteken vir koningin Elizabeth gaan ‘n brug bevat met ‘n balustrade van glas, nuwe hekke en ‘n gedenktuin. Lord Norman Foster se ontwerpspan is aangewys as wenner van die kompetisie vir ‘n gedenkteken vir Brittanje se langsdienende monarg wat in St Jamespark in sentraal-Londen opgerig gaan word. Die deursigtige brug gaan lyk soos die tiara wat die ontslape koningin op haar troudag gedra het. Haar man, prins Philip, word ook ingesluit, asook ‘n tradisionele groot standbeeld van Elizabeth wat oor die Mall uitkyk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….