Nuus 18:00
BULLETIN 24 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mchunu sê die Veilige Skole-protokol is die begin van werklike optrede om leerders te beskerm
# Die VF Plus vra Amerika om voorspoed vir almal in Suid-Afrika te ontsluit
# En Trump sê die wapenstilstand tussen Israel en Iran is weer van krag nadat hy uitgevaar het teen albei lande
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, sê die Veilige Skole-protokol dui op ‘n gedeelde, praktiese verbintenis tussen die polisie en die Departement van Basiese Onderwys om leerders te beskerm. Mchunu beklemtoon leerders in elke klaskamer moet van die protokol bewus wees. Hy versoek gemeenskappe en ouers om dit te ondersteun en waarsku stappe sal gedoen word teen geweld, dwelms, wapens en afpersing, veral in skole in Gauteng, KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en die Wes-Kaap:
# Die Vryheidsfront Plus sê sy besoek aan Amerika is ‘n poging om ekonomiese groei en wedersydse respek te bevorder, nie om vir hulp te vra nie. Partyleier Corné Mulder het by die Hudson-instituut in Washington DC gevra Amerika moet help om die deur oop te maak tot geleenthede vir alle Suid-Afrikaners. Hy glo die Afrikaner-gemeenskap is reg om ‘n bydrae te maak tot ekonomiese groei, maar waarsku dat die ANC se ras-gebaseerde wette vooruitgang belemmer:
Die Amerikaanse president, Donald Trump, sê intussen die wapenstilstand tussen Iran en Israel is weer van krag, kort nadat hy met kragwoorde teen albei lande uitgevaar het weens die verbreking van die wapenstilstand. Die 79-jarige Republikein, wat op pad was om ‘n NAVO-beraad in Den Haag, Nederland, by te woon, het op sy Truth Social-mediaplatform verklaar die wapenstilstand gaan voort. Dit was pas nadat hy Iran, en Amerika se noue bondgenoot, Israel, gekritiseer het vir die verbreking van die wapenstilstand wat hy laat gistermiddag aangekondig het.
# Rugby: Die Britse en Ierse Leeus het Australië gewaarsku teen kontrakbreuk deur nie internasionale sterre beskikbaar te stel vir al die toerwedstryde teen Super Rugbyspanne nie. Die toer bestaan uit drie toetse teen die Wallabies en ses ander kragmetings. Die Wallabies se hoofafrigter, Joe Schmidt, wil glo nie sommige van sy beste spelers toelaat om vir hulle streekspanne te speel nie uit vrees vir beserings voor die toetse. Die Leeus se uitvoerende hoof, Ben Calveley, sê hulle wil teen die sterkste moontlike teenstanders speel om behoorlik voor te berei vir die Wallabies.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-59-sent teen die euro en 24-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-376-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-303-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-94-sent per vat.
# En laastens, die DA-leier, John Steenhuisen, sê die party bly daartoe verbind om ‘n land te skep waarin alle Suid-Afrikaners toegang het tot geleenthede, waardigheid en voorspoed. Hy het gepraat tydens die DA se 25ste bestaansjaar-viering in Hanoverpark, Kaapstad, waar ‘n landswye kombersveldtog gehou is om kwesbare gemeenskappe te ondersteun. Steenhuisen sê die DA se geskiedenis van goeie dienslewering wys wat bereik kan word. Hy beloof die party sal aanhou poog om mense se lewens te verbeter:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….