Nuus 16:00
BULLETIN 24 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika verloor binne drie maande 74-duisend werksgeleenthede
# City Power en Eskom skik ná ‘n geskil oor skuld van 3.2-miljard-rand
# En rugby: Die Bok-hulpafrigter Tony Brown sê Saterdag se wedstryd teen die Barbarians sal die toon aangee vir die komende seisoen
# Statistieke Suid-Afrika het tussen Januarie en Maart vanjaar ‘n daling van 74-duisend werksgeleenthede in die formele sektor aangeteken, wat die algehele indiensnemingsyfer op net meer as tien-miljoen te staan bring. Die grootste verliese was in handel en gemeenskapsdienste, met vervaardiging en die boubedryf wat ‘n klein wins getoon het. Matlapane Masupye van Statistieke SA sê voltydse werksgeleenthede het met 55-duisend gedaal, deeltydse poste met 19-duisend en die algehele verdienste het met meer as 47-miljard-rand gedaal:
# City Power in Johannesburg en Eskom het hul geskil rakende skuld geskik ná bemiddeling deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Energie-ontwikkelingsinstituut. Die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, en burgemeester Dada Morero het bevestig Eskom sal oor ‘n tydperk van vier jaar 3,2-miljard-rand ontvang en 830-miljoen-rand word afgeskryf. ‘n Hof het gelas die stad moet meer as een-miljard-rand, met rente, betaal, maar City Power beweer oorfakturering. Ramokgopa beklemtoon hoe dringend dit is om meterprobleme op te los:
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het die Stad Kaapstad se voorstel vir ‘n gemengde gebruiksontwikkeling langs die Athlone-stadion verwerp. Die metro het ‘n openbare deelnameproses geopen, wat tot 7 Julie duur, om kommentaar in te samel oor die voorstel om ‘n gedeelte van die parkeerterrein langs Klipfonteinweg te verkoop vir gemengde gebruiksontwikkeling. McKenzie het dit verwerp en sê die metro moet behuisingsplanne na welgestelde voorstede soos Constantia herlei.
# Rugby: Die Springbokke se hulpafrigter, Tony Brown, sê Saterdag se wedstryd teen die Barbarians is ‘n ideale toets vir die span wat die toon sal aangee vir die komende seisoen. Die wedstryd op die Kaapstad-stadion is die eerste ontmoeting tussen die Bokke en die BaaBaas sedert 2016. Brown sê aspekte van Suid-Afrika se speelstyl sal deur die seisoen ontwikkel terwyl hulle daarop fokus om aanhoudend te verbeter:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-57-sent teen die euro en 24-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-252-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-317-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-57-sent per vat.
# En laastens, die Brits-geregistreerde superjag Bayesian wat in Augustus verlede jaar naby Sicilië gesink het, het sy laaste rit na die Siciliaanse hawe van Termini Imerese voltooi nadat herwinningspanne dit uit die water gehaal het. Die Britse tegnologiemagnaat Mike Lynch en ses ander passasiers is in die ongeluk dood. Britse ondersoekers het bepaal die jag het gesink op die plek waar die bemanning skuiling gesoek het teen donderstorms. Windsnelheid van meer as 70 knope het die boot 90 grade laat kantel binne 15 sekondes.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….