Nuus 13:00
BULLETIN 24 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Israel beveel aanvalle op Teheran nadat Iran die wapenstilstand verbreek
# AfriForum wil lasbriewe laat uitreik nadat Zuma versuim om regskostes te betaal
# En rugby: Suid-Afrika herdenk die Bokke se eerste Wêreldbeker-titel 30-jaar gelede
# Israel se minister van Verdediging, Israel Katz, het die Leër opdrag gegee om te reageer op Iran se verbreking van die skietstilstand nadat die Weermag inkomende Iranse missiele aangemeld het. Hy sê die Weermag het opdrag om kragtige aanvalle teen regime-teikens in die hartjie van Teheran uit te voer. Die Amerikaanse president, Donald Trump, het ‘n gefaseerde wapenstilstandsproses van 24-uur aangekondig, met Israel wat daartoe ingestem het. Iran het nie die wapenstilstand formeel aanvaar nie, maar ontken dat missiele afgevuur is nadat die verposing in werking getree het.
Terug in Suid-Afrika:
# AfriForum beplan om lasbriewe te bekom om beslag te lê op oudpresident Jacob Zuma se bates weens sy versuim om meer as 500-duisend-rand se regskostes te betaal. Die kostes hou verband met sy onregmatige mediese parooluitspraak in 2021. Slegs een betaling is ontvang, ondanks bevele van die Hooggeregshof in Pretoria, die Appèlhof en die Konstitusionele Hof. Louis Boshoff van AfriForum veroordeel Zuma se vertragingstaktiek:
# Gauteng se LUR vir Finansies en Ekonomiese Ontwikkeling, Lebogang Maile, het die provinsie se eerste munisipale verslag oor die ekonomie en vooruitsigte bekendgestel. Die doel is om sukkelende munisipaliteite met beplanning en begrotings by te staan. Die verslag wil betroubare, gedetailleerde data oor ekonomiese toestande op munisipale vlak voorsien. Die owerhede sê dit sal ingeligte besluitneming ondersteun, ekonomiese ontwikkeling bevorder en dienslewering verbeter. Maile het aan SABC News gesê hy hoop dit sal veerkragtigheid in munisipaliteite opbou:
# Rugby: Suid-Afrika vier vandag ‘n spesiale oomblik in die geskiedenis – 30-jaar sedert die Springbokke 1995 se Wêreldbeker-eindstryd teen Nieu-Seeland op Ellispark in Johannesburg gewen het. Die oorwinning van 15–12 verteenwoordig ‘n verenigende oomblik in die destydse nuwe demokratiese nasie. Die Bokke het die gesogte Webb Ellis-trofee intussen nog drie keer ingepalm – in 2007, 2019 en 2023 – maar 1995 se oorwinning bly die mees simboliese. Die Bokke skop Saterdag vanjaar se seisoen af wanneer hulle in Kaapstad met die Barbarians kragte meet.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-68-sent teen die dollar, 20-rand-54-sent teen die euro en 24-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-494-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-319-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-14-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Bruid is op haar troudag doodgeskiet in die dorp Gould naby die suidelike Franse stad Avignon. Sy en haar nuwe man is geteiken deur gewapende aanvallers met kappiebaadjies. Die egpaar het die onthaal saam met ‘n 13-jarige kind in ‘n motor verlaat toe skote op hulle geskiet is. Een van die aanvallers is dood toe die bruidspaar se motor hom getref het toe hulle probeer wegkom het. Die Franse koerant Le Figaro sê aanklaers ondersoek klagtes van moord en poging tot moord.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….