Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 24 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Suid-Afrika vier vandag ‘n spesiale oomblik in die geskiedenis – 30-jaar sedert die Springbokke 1995 se Wêreldbeker-eindstryd teen Nieu-Seeland op Ellispark in Johannesburg gewen het. Die oorwinning van 15–12 verteenwoordig ‘n verenigende oomblik in die destydse nuwe demokratiese nasie. Die Bokke het die gesogte Webb Ellis-trofee intussen nog drie keer ingepalm – in 2007, 2019 en 2023 – maar 1995 se oorwinning bly die mees simboliese. Die Bokke skop Saterdag vanjaar se seisoen af wanneer hulle in Kaapstad met die Barbarians kragte meet.
Die Bokke se hulpafrigter, Tony Brown, sê intussen die wedstryd teen die Barbarians is ‘n ideale toets vir die span wat die toon sal aangee vir die komende seisoen. Die wedstryd op die Kaapstad-stadion is die eerste ontmoeting tussen die Bokke en die BaaBaas sedert 2016. Brown sê aspekte van Suid-Afrika se speelstyl sal deur die seisoen ontwikkel terwyl hulle daarop fokus om aanhoudend te verbeter:
# Sokker: Banyana Banyana se afrigter, Desiree Ellis, het ‘n finale span van 26 spelers aangekondig vir die Afrikabekertoernooi vir vroue wat volgende Saterdag in Marokko begin. Slegs 14 was in die span wat die toernooi drie jaar gelede gewen het. Die 17-jarige Casey Gordon en Bonolo Mokoma van die JVW-klub in Bedfordview is die jongste spelers in die groep. Suid-Afrika speel in Groep C teen Ghana, Mali en Tanzanië. Ellis sê dit was ‘n uitdaging om die finale span te kies:
# Krieket: Die Wes-Indiese Eilande se vrouespan het Suid-Afrika met ses paaltjies verslaan in die derde en laaste T20-wedstryd in Barbados en die reeks 2-1 gewen. Die 20-jarige Miané Smit het ‘n onoorwonne 59 behaal en die Proteas het 147 vir ses aangeteken. Die Windies se kaptein, Hayley Matthews, het daarna 65 van 50 balle gemoker en die tuisspan het die teiken gehaal met nege balle oor. Dis die eerste keer in 12 jaar dat die Windies Suid-Afrika in ʼn reeks kon klop.
# En motorsport: McLaren het aangekondig dat die 19-jarige Alex Dunne vir Lando Norris vervang in die eerste oefening vir hierdie naweek se Oostenrykse Grand Prix. Dit is die eerste keer in 22 jaar dat ‘n Ierse renjaer aan ‘n F1-naweek deelneem. Dunne is sedert Mei verlede jaar ‘n lid van McLaren se ontwikkelingsprogram en is tans die voorloper in die Formule 2-kampioenskap in sy eerste jaar. Spanhoof Andrea Stella sê dis goed om hom waardevolle tyd agter die stuur van ’n F1-motor te gee as deel van sy ontwikkeling.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….