Nuus 12:00
BULLETIN 24 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum wil lasbriewe laat uitreik nadat Zuma versuim om sy regskostes te betaal
# Israel stem in tot ‘n skietstilstand met Iran en beklemtoon militêre welslae
# En rugby: Suid-Afrika vier vandag die 30ste herdenking van die Bokke se oorwinning in 1995 se Wêreldbekertoernooi
# AfriForum beplan om lasbriewe te bekom om beslag te lê op oudpresident Jacob Zuma se bates weens sy versuim om meer as 500-duisend-rand se regskostes te betaal. Die kostes hou verband met sy onregmatige mediese parooluitspraak in 2021. Slegs een betaling is ontvang, ondanks bevele van die Hooggeregshof in Pretoria, die Appèlhof en die Konstitusionele Hof. Louis Boshoff van AfriForum veroordeel Zuma se vertragingstaktiek:
# Die dodetal in die Oos-Kaapse oorstromings het tot 95 gestyg terwyl soek- en reddingsoperasies voortduur met behulp van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag. Ses-en-tagtig van die liggame wat gevind is, is deur gesinne uitgeken en daar word voortgegaan om die res te identifiseer. Die provinsie se woordvoerder, Khuselwa Rantjie, sê regeringsinstellings en nie-regeringsorganisasies se ondersteuning was van groot hulp:
# Die Israelse regering sê hy het ingestem tot ‘n skietstilstand met Iran en beklemtoon hy het al sy doelwitte en meer bereik. Dit sluit in ʼn tweeledige bedreiging wat kern- en ballistiese missiele betref, volle beheer oor Teheran se lugruim en ernstige skade aan die militêre leierskap. Die skietstilstand wat deur president Donald Trump van Amerika bewerkstellig is, kom na elf dae van aanvalle tussen die twee lande. Israel se regering sê hy sal met geweld reageer op enige verbreking van die skietstilstand.
# Rugby: Suid-Afrika vier vandag ‘n spesiale oomblik in die geskiedenis – 30-jaar sedert die Springbokke 1995 se Wêreldbeker-eindstryd teen Nieu-Seeland op Ellispark in Johannesburg gewen het. Die oorwinning van 15–12 verteenwoordig ‘n verenigende oomblik in die destydse nuwe demokratiese nasie. Die Bokke het die gesogte Webb Ellis-trofee intussen nog drie keer ingepalm – in 2007, 2019 en 2023 – maar 1995 se oorwinning bly die mees simboliese. Die Bokke skop Saterdag vanjaar se seisoen af wanneer hulle in Kaapstad met die Barbarians kragte meet.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 24-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-144-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-325-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-27-sent per vat.
# En laastens: ‘n Eeue-oue viool ter waarde van meer as 3,6-miljoen-rand is uit ‘n Londense kroeg gesteel. Dit behoort aan ‘n lid van die Londense Filharmoniese Orkes. Die 30-jarige eienaar het die diefstal onmiddellik by die polisie aangemeld, maar die instrument is nog nie gevind nie. Die Britse polisie vra nou hulp om die viool van 285-jaar op te spoor, en het kringtelevisie-materiaal vrygestel van ‘n man wat die kroeg daarmee verlaat. Dit is in 1740 in Florence, Italië, gemaak en die eienaar beskryf dit as uiters kosbaar en waardevol.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….