Nuus 06:00
BULLETIN 24 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Tesourie sê die Wêreldbank-lening sal kritieke strukturele hervormings ondersteun
# Die DA wil hê Paul Mashatile moet sy beweerde lotery-bande in die Parlement verduidelik
# En rugby: Manie Libbok lei ‘n uittog van nege Stormers
# Die regering en die Wêreldbank het op ‘n lening van 27-miljard-rand ooreengekom wat sal help om infrastruktuurvertragings uit die weg te ruim, veral in die energie- en vragvervoersektore. Die Nasionale Tesourie sê die lening is bedoel om kritieke strukturele hervormings te ondersteun wat daarop gemik is om die doeltreffendheid, veerkragtigheid en volhoubaarheid van die land se infrastruktuurdienste te verbeter. Die Tesourie sê die lening bied gunstige rentekoerse en ‘n buigsame terugbetalingstermyn, wat bydra tot die vermindering van die koste van skuld.
# Die DA sal vandag in die Parlement die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau en die Nasionale Loterykommissie ondervra, oor die omstrede toekenning van ‘n loterylisensie ter waarde van 60-miljard-rand aan Sizekhaya Holdings. Die lotery se wen-tenderaar is na bewering verbind met adjunkpresident Paul Mashatile se vertrouelinge en familielede. Die DA-lid, Toby Chance, sê die Hooggeregshof in Pretoria het beslis die lisensieproses was onreëlmatig:
# President Cyril Ramaphosa sal na verwagting vandag die Kerngeneeskunde Navorsingsfasiliteit by die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria besoek. Die sentrum is ‘n baanbreker met die ontwikkeling van kanker- en tuberkulose-medikasie. Ramaphosa sal ook die hartkateterisasie-laboratorium besoek waar gespesialiseerde diagnostiese en intervensie-prosedures op die hart en bloedvate uitgevoer word. Die presidensie sê dit beklemtoon Suid-Afrika se toewyding aan gesondheidsorginnovering, regverdige toegang, en geïntegreerde infrastruktuurbelegging in mediese navorsing en dienste.
# Die leier van ActionSA, Herman Mashaba, sê voortdurende water- en elektrisiteitsprobleme in Alexandra beklemtoon regeringsmislukkings. Mashaba het by die bekendstelling van ‘n nasionale Herstel Plaaslike Regering-veldtog in Alexandra, Gauteng swak dienslewering en korrupsie veroordeel en sê dit skend basiese menseregte. Hy doen ‘n beroep op kiesers om etiese, mense-gerigte leierskap te ondersteun, en voeg by ActionSA is gereed om waardigheid te herstel met doeltreffende bestuur op ‘n plaaslike vlak:
# Die Withuis sê president Donald Trump het bloot ‘n vraag gevra toe hy voorgestel het dat daar ‘n regeringsverandering in Iran moet wees. In ‘n sosialemedia-plasing Sondag, het Trump geskryf as die huidige Iranse regime nie in staat is om Iran weer groot te maak nie, waarom sou daar nie ‘n verandering wees nie. Die Withuis-perssekretaris, Karoline Leavitt, sê die president stel steeds belang in diplomasie met Iran:
# Rugby: Die Springbok-losskakel Manie Libbok is aan die voorpunt van die uittog van nege Stormers-spelers na afloop van die Verenigde Rugbykampioenskap. Die 27-jarige wedstrydwenner word gekoppel aan ‘n skuif na Hanazono Liners in Osaka, Japan, na die vertrek van die Wallabie-losskakel Quade Cooper. Die ander spelers wat die Kaapstadse span verlaat, is Brok Harris en Dave Ewers, wat uitgetree het, Herschel Jantjies, Paul de Wet, Clayton Blommetjies, Joseph Dweba, Ben Loader en Angelo Davids.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-81-sent teen die dollar, 20-rand-67-sent teen die euro en 24-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-468-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-347-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-7-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….