Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Nzimande hou vol hy is onskuldig na OUTA se bewerings van guns-lone
# Die ANC sal sy koalisiebenadering teen einde Januarie aankondig
# En, sokker: Buig of bars vir Man United in die FA-beker
# Die minister van Hoёr Onderwys, Wetenskap en Innovering, Blade Nzimande, weerlê bewerings van wanbesteding van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente se fondse vir die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty en persoonlike gewin. Hy verwerp as kwaadwillig en ongegrond die verdoemende verslag en opnames deur die Organisasie teen Belastingmisbruik met bewerings van wanbestuur van fondse en korrupsie binne N-S-FAS. Nzimande het op ‘n nuuskonferensie volgehou hy is onskuldig en beskryf opnames wat uitgelek het, as deel van ʼn komplot teen die beëindiging van die kontrakte van diensverskaffers:
# Die ANC se nasionale uitvoerende komitee beplan om aan die einde van die maand sy voortgesette koalisievennootskappe aan te kondig. Opmerklike alliansies sluit dié in met die EFF en die Patriotic Alliance. Die ANC se hoof van politieke opvoeding, David Makhura, sê ‘n volledige verslag oor die party se benadering tot mede-regering sal dié maand afgehandel word. Hierdie aankondigings val saam met die party se 112de bestaansvierings. Makhura beklemtoon die party se toewyding aan die versekering van die wettigheid van koalisieprosesse voor die algemene verkiesing.
# Die minister van Justisie, Ronald Lamola, het bekendgemaak die Aspirant-aanklaerprogram van die Nasionale Vervolgingsgesag is in gevaar weens begrotingsbeperkings. Lamola het die Parlement verwittig die NVG sal dalk nie vanjaar die ongeveer 300 regsgegradueerdes in diens kan neem wat die program jaarliks lewer nie. Die program bied opleiding oor 12-maande aan gegradueerdes om staatsaanklaers in laer howe te word. Lamola waarsku voortdurende begrotingstekorte kan ernstige gevolge vir die NVG hê, hoewel hulle alternatiewe ondersoek om gegradueerdes met hulle bestaande kontrakte te behou.
# Sokker: Manchester United begin sy FA-bekerveldtog vanaand by Wigan Athletic nadat hulle verlede seisoen die eindstryd van die kompetisie gehaal het. United is reeds uit die Kampioeneliga en die Engelse Ligabeker geskakel, en sukkel maar in die agste plek in die Premierliga. Bestuurder Erik ten Hag beklemtoon die belangrikheid daarvan om voorbereid te wees op wat ʼn vyandige ontvangs kan wees:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-68-sent teen die dollar, 20-rand-47-sent teen die euro en 23-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 45-duisend-26-dollar-78-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-21-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-83-sent per vat.
# Ten slotte: ‘n Onlangse studie deur die Universiteit Stellenbosch onthul ‘n aansienlike afname in die aantal leerders wat in 2020 die grade tien en elf moes herhaal. News24 berig dit word toegeskryf aan toegeeflikheid om leerverliese weens die Covid-19-pandemie teen te werk. Die navorsing dui aan ontspanne beoordelings het uitgeloop op hoër slaagsyfers en ‘n aansienlike verlaging in die skoolverlatingskoers. Die toegeeflikheid is ingestel om die uitdagings die hoof te bied waarmee leerders te doen gehad het wat nie gereeld skool kon bywoon tydens die pandemie nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….