Nuus 16:00
BULLETIN 23 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Nog tien soldate word in hegtenis geneem vir die moord op ‘n Valke-offisier
# Rugby: Die Wallabies lees nie te veel in die Leeus se nederlaag teen die Pumas nie
# En ‘n erge kouefront stuur op die Wes- en die Noord-Kaap af
# Nog tien lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag is in hegtenis geneem in verband met die moord op ‘n offisier van die Valke, Frans Mathipa. Altesaam 12 mense is nou aangekeer. Die betrokke tien lede het hulself oorgegee aan die Valke in Johannesburg en sal binnekort in die Landdroshof in Randburg verskyn. Mathipa is in Augustus verlede jaar op die N1 naby Hammanskraal in Pretoria doodgeskiet. Hy het ondersoek ingestel na die beweerde ontvoering van ‘n vermeende leier van Islamitiese Staat, Abdella Abadiga.
# Business Leadership SA verwelkom die vordering om aan alle vereistes van die Finansiële Aksietaakmag te voorsien om teen Oktober van die gryslys te beweeg. Die organisasie sê dit sal die las op internasionale transaksies verlig en beleggersvertroue herbou. Uitvoerende hoof Busisiwe Mavuso het in haar weeklikse nuusbrief die Nasionale Tesourie geprys omdat hy die skade van staatskaping omgekeer het. Mavuso waarsku dat Amerikaanse heffings van tien- na 30-persent kan styg as die Amerika-Afrika-handelsberaad in Angola nie ‘n ooreenkoms bereik nie, wat vervaardigings- en landbou-werksgeleenthede in gevaar kan stel.
# Die Ouditeur-generaal, Tsakani Maluleke, sê volgehoue wanfunksionering in plaaslike regerings belemmer ekonomiese groei in Suid-Afrika. Sy het tydens ‘n oorsig van die Witskrif oor Plaaslike Regering van 1998 munisipaliteite aangespoor om oudituitkomste ernstig op te neem, en koppel swak finansiële bestuur aan diensleweringsmislukkings. Maluleke waarsku nie-nakoming en onbetroubare prestasieverslae ondermyn openbare vertroue en belegging. Sy versoek hernude verbintenis om hervormings in te stel en sê die witskrif van 1998 was betroubaar, maar nooit ten volle toegepas nie:
# Rugby: Die Wallabies sal nie te veel lees in die Britse en Ierse Leeus se nederlaag teen Argentinië in hul opwarmingswedstryd vir hulle toer na Australië nie. Die Pumas het 28-24 gewen in Dublin. Die Wallabie-heelagter Tom Wright sê dit was ‘n baie opwindende kragmeting met heelwat hardloop-rugby, maar baie van die Leeus se groot name het nie gespeel nie. Die besoekers se eerste toerwedstryd is Saterdag in Perth teen Western Force. Die eerste van die drie toetse teen die Wallabies word op 19 Julie in Brisbane gespeel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-13-sent teen die dollar, 20-rand-78-sent teen die euro en 24-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-228-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-361-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 75-dollar-82-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Erge koue front sal die Wes- en die Noord-Kaap na verwagting vanaf Woensdag tot Vrydag tref. ‘n Voorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens, Lehlohonolo Thobela, sê wanneer die stelsel ooswaarts beweeg, sal sterk wind die Oos-Kaap en binnelandse provinsies beïnvloed:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….