Nuus 08:00
BULLETIN 23 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Israel se VN-gesant beskuldig Iran dat hulle diplomasie as ‘n vertragingstaktiek gebruik
# Die DA eis antwoorde van die polisieminister oor geslagsgeweldstatistiek
# En krieket: Die Wes-Indiese Eilande klop die Protea-vroue in die tweede T20 om die reeks gelykop te maak
# Israel se ambassadeur by die Verenigde Nasies, Danny Danon, beweer Iran se kernprogram is nie bedoel vir energie nie, maar vir dood en verwoesting. Dit ten spyte van Teheran se volgehoue versekering dat hy nie ‘n kernbom bou nie. Danon het Sondag tydens ʼn noodvergadering van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad in New York gesê deur drie kernaanlegte in Iran te tref, het Amerika die mensdom se grootste bestaanskrisis afgeweer. Hy sê dit sou rampspoedig wees om dit te ignoreer:
Amerika se Departement van Buitelandse Sake het intussen ʼn wêreldwye waarskuwing aan Amerikaners uitgereik en sê die Israel-Iran-konflik veroorsaak ontwrigting vir reisigers en die lugruim in die Midde-Ooste word soms gesluit. Hy sê daar bestaan ʼn moontlikheid van betogings teen Amerikaanse burgers en belange oorsee. Die land se Departement van Binnelandse Sake waarsku teen toenemende gevaar in Amerika weens die voortslepende konflik. Hy sê pro-Iranse kuberkrakers kan laevlak-kuberaanvalle op Amerikaanse netwerke uitvoer en voeg by die konflik kan ook gewelddadige ekstremiste aanhits.
# Die DA sê hy gaan aan die voorsitter van die portefeuljekomitee oor Polisie, Ian Cameron, skryf om te versoek dat die minister van Polisie, Senzo Mchunu, dringend voor die komitee verskyn. Die party sê hy moet verduidelik waarom senior polisie-offisiere die Parlement mislei het oor die weglating van geslagsgeweldstatistiek in die jongste nasionale misdaadverslag. Lisa Schickerling van die DA sê dit is nie ‘n tegniese fout nie; dit is ‘n doelbewuste wanvoorstelling wat aanspreeklikheid vereis:
# Die burgerregte-organisasie Soil of Africa betoog vandag by die Tsebe-Ntlha Primary School in Hammanskraal om onmiddellike optrede teen bewerings van korrupsie en wanbestuur by die skool te eis. Ouers het vroeër vanjaar beweer die skoolhoof en skoolbestuur span saam om geld te steel, en hulle kla ook oor swak infrastruktuur en sanitasie. Die organisasie se voorsitter, Bongani Ramontja, sê ouers sal nie langer blatante minagting vir deursigtigheid en aanspreeklikheid verdra nie:
# Krieket: Die Wes-Indiese vrouespan het Suid-Afrika met ses paaltjies verslaan om die T20-reeks van drie wedstryde in Barbados gelykop met een elk te maak. Die draaiboulers Afy Fletcher en Karishma Ramharack het elkeen twee paaltjies platgetrek en Suid-Afrika is in hul 20 boulbeurte tot 113 vir ses beperk. In antwoord daarop het kaptein Hayley Matthews ʼn onoorwonne 63 van 56 balle behaal en die Wes-Indies het die teiken in die laaste boulbeurt bereik. Die bepalende wedstryd vind vanaand plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-6-sent teen die dollar, 20-rand-77-sent teen die euro en 24-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-370-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-363-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….