Nuus 06:00
BULLETIN 23 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Amerikaanse minister van Verdediging sê die VSA het Iran se kernprogram verwoes
# Floyd Shivambu sê daar is ‘n behoefte aan ‘n ander politieke keuse
# En rugby: Die Springbok Sewes ‘A’-span word as Afrika-kampioene gekroon
# Die Amerikaanse minister van Verdediging, Pete Hegseth, sê hulle het daarin geslaag om Iran se kernambisies uit te wis. Die Iranse Atoomenergie-organisasie sê die aanval op van die kernterreine was ‘n barbaarse skending van internasionale reg. Hegseth sê baie presidente het gedroom om die finale slag teen Iran se kernprogram toe te dien, en slegs president Donald Trump kon daarin slaag:
President Cyril Ramaphosa sê intussen Suid-Afrika is senuweeagtig oor die VSA se toetrede tot die Israel-Iran-oorlog. Die Amerikaanse operasie het 125 Amerikaanse militêre vliegtuie betrek, insluitend sewe B-2-Stealth-bomwerpers. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Suid-Afrika het gehoop president Donald Trump gebruik sy invloed om die partye te oortuig om dialoog te voer oor hul geskilpunte:
En die MK-party veroordeel wat hy bestempel as die “roekelose en onwettige” Amerikaanse militêre aanval op die Islamitiese Republiek van Iran se kernfasiliteite ten sterkste. Die party sê die brutale daad van aggressie, wat sonder VN-magtiging uitgevoer is, verteenwoordig ‘n skending van internasionale reg, soewereiniteit en die basiese beginsels van vrede, selfbeskikking en weerhouding. Die MK-party het ‘n beroep op die internasionale gemeenskap, veral die Afrika-Unie, BRICS-nasies en die Onverbonde Beweging, gedoen om die optrede te verwerp.
# Die voormalige sekretaris-generaal van die MK-party, Floyd Shivambu sê hy het positiewe reaksie van Suid-Afrikaners ontvang, wat belangstelling toon om ‘n nuwe politieke beweging in die land te stig. Hy het verlede Donderdag aangekondig hy gaan oor die komende maande verskeie gemeenskappe en groepe raadpleeg om te bepaal of hy sy eie politieke party moet stig. Shivambu sê uit die reaksie wat hy ontvang het, is die behoefte aan ‘n ander politieke keuse sterk, en hy gaan sy konsultasieproses verbreed.
# Die DA in Gauteng sê hulle verwerp die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling se plan om voedselbanke te sentraliseer deur die verspreiding van voedselpakkies van 288 organisasies sonder winsbejag en vyf streeksvoedselbanke na ‘n sentrale voedselbank te verskuif. Refiloe Nt’sekhe van die DA sê die plan om ‘n sentrale voedselbank te stig, volg nadat die departement die hoë maandelikse huurkoste van twee-miljoen-rand vir bestaande voedselbanke uitgelig het:
# Rugby: Die Springbok Sewes ‘A’-span is die Rugby Afrika Seweskampioene na ‘n oortuigende oorwinning van 26-12 oor Madagaskar in die eindstryd in Mauritius. Suid-Afrika het Groep B met Burkina Faso, Zambië en Nigerië oortuigend uitgeskakel. In die kwarteindronde het hulle die verdedigende kampioene, Uganda, met 26-0 geklop, voordat hulle ‘n moeisame oorwinning van 19-12 oor Zimbabwe verkry het om die eindstryd te haal. Blitsbok-afrigter Philip Snyman sê hy is tevrede met die spelers se spel en die uitvoering van hul pligte:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-6-sent teen die dollar, 20-rand-77-sent teen die euro en 24-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 100-duisend-895-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-374-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….