Nuus 13:00
BULLETIN 22 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Britse eerste minister sê Iran moet terugkeer na die onderhandelingstafel
# Eskom-werknemers word drie-miljard-rand vir oortyd betaal
# En Suid-Afrikaners gaan bibber van die koue die week
# Ons begin in die Midde-Ooste: Brittanje se eerste minister het Iran versoek om terug te keer na die onderhandelingstafel nadat Amerika sy kernfasiliteite aangeval het. Keir Starmer sê in ‘n plasing op X Iran se kernprogram is ‘n “ernstige bedreiging vir internasionale veiligheid”. Hy het Iran versoek om opnuut te onderhandel en ‘n diplomatieke oplossing te bereik om die krisis te beëindig. Iran se ministerie van Buitelandse Sake het vroeër gesê die VSA het ‘n “gevaarlike oorlog teen Iran” begin. Hulle beskou dit as ‘n skending van internasionale reg.
# En terug op eie bodem: Die Vereniging van Staatsamptenare sê geslagsgeweld is steeds een van die dringendste kwessies wat gemeenskappe regoor die land raak. Die vereniging se woordvoerder, Claude Naiker, sê te veel lewens is verloor, en te veel gesinne het gely as gevolg van sinnelose dade van geweld. Hy sê die vereniging doen ‘n beroep op gemeenskapslede om bedag te bly, mishandeling aan te meld en oorlewendes te ondersteun in hul soeke na geregtigheid:
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, het gereageer op ‘n parlementêre vraag van die EFF-LP Mandla Shikwambana, oor oortyduitgawes vir Eskom-werknemers. Die finansiële verslag toon dat meer as 10-miljoen-rand aan raadsfooie en drie-miljard-rand se oortyd betaal is. Ramokgopa sê die bedrae wat betaal is, sluit fooie in vir beide raadsvergaderings en subkomiteevergaderings. Die energiekenner, Mohamed Madhi sê daar is ‘n paar faktore wat verband hou met oortyd:
# ActionSA sê hy is omgekrap oor die onlangse moorde op twee raadslede in die Stad Johannesburg. Die party sê dit volg ná die moorde op die ANC-raadslede Thulani Buthelezi en Zakes Mathe. Siyabonga Zwane van ActionSA sê albei moorde het vermoedelik ‘n politieke doel, gekoppel aan wedywering, beheer oor openbare hulpbronne en is verstrengel in misdadige netwerke:
# Tennis: Die Rus, Daniil Medvedev het die Duitse gunsteling Alexander Zverev in drie stelle uitgeskakel om die eindronde van die ATP-toernooi in Halle te haal. Die wêreldnommer 11 het in ‘n stryd van net minder as drie uur met 7-6, 6-7, 6-4 geseëvier. Later vanmiddag speel Medvedev in sy eerste eindstryd op die toer sedert Maart 2024, teen Alexander Bublik van Kazakstan. Dit was die 20ste botsing tussen die twee spelers uit dieselfde era, met die 29-jarige Medvedev wat met 13-7 voorloop teen die 28-jarige Zverev .
# En op ‘n koue noot: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê koel en koue toestande sal vandag voortduur, maar het gewaarsku teen ‘n ernstige kouefront wat die Wes-Kaap en Noord-Kaap Woensdag en Donderdag sal tref. Die publiek en veral kleinveeboere moet bedag wees op baie koue, nat en winderige toestande met swaar reënval, sterk binnelandse winde en stormsterk kuswind. ‘n Baie rowwe see met hoë golwe, en ligte sneeuval oor hoër gebiede word ook verwag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….