Nuus 08:00
BULLETIN 22 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VN-sekretaris-generaal is ernstig bekommerd oor die VSA se aanval op Iran
# Frik Potgieter en Peter Huxham word uit aanhouding in Ekwatoriaal-Guinee vrygelaat
# En Prins William vier sy verjaardag met hondjiefoto
# Die sekretaris-generaal van die VN, Antonio Guterres, sê hy is ernstig bekommerd oor die gebruik van geweld deur die Verenigde State teen Iran. Hy het gereageer op ‘n aanval deur Amerikaanse B-2-bomwerpers op drie Iranse kernterreine, insluitend Fordow, Natanz en Isfahan. Guterres het dit bestempel as ‘n gevaarlike geweldstoename in ‘n streek wat ‘n regstreekse bedreiging inhou vir internasionale vrede en veiligheid. Hy sê daar is ‘n groeiende risiko dat hierdie konflik vinnig buite beheer kan raak, met katastrofiese gevolge vir burgerlikes, die streek en die wêreld.
Iran het voorheen belowe om terug te slaan as die VSA by Israel se aanval aansluit, maar daar was geen amptelike verklaring deur Teheran se leiers sedert die VSA-aanval nie. In sy toespraak vanuit die Withuis gisteraand het president Donald Trump die Israelse weermag bedank en Amerikaanse personeel geprys vir ‘n operasie soos die wêreld in dekades nie gesien het nie:
# Die twee Suid-Afrikaanse ingenieurs, wat sedert 9 Februarie 2023 onwettig in Ekwatoriaal-Guinee aangehou is, is vrygelaat en is veilig tuis op Suid-Afrikaanse bodem. Hul vrylating volg op ‘n kwytskelding deur die president van Ekwatoriaal-Guinee, Teodoro Obiang Mbasogo. Frik Potgieter en Peter Huxham is persoonlik verwelkom deur die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, toe hulle gisteraand by die Lanseria-lughawe aangekom het. ‘n Woordvoerder vir die twee mans se families, Francois Nigrini, het hul diepste waardering uitgespreek teenoor almal wat onvermoeid agter die skerms gewerk het om hul vryheid te verseker:
Die regering het intussen die vrylating verwelkom. Die woordvoerder van die ministerie van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Chrispin Phiri, sê die regering waardeer die regering van Ekwatoriaal-Guinee se voortgesette voorsiening van konsulêre toegang en die volgehoue gees van konstruktiewe diplomatieke dialoog.
# Sokker: Mamelodi Sundowns het die knie gebuig voor Borussia Dortmund in ‘n spannende 4-3-kragmeting in hul 2025 FIFA Klubwêreldbeker-groepwedstryd. Hoewel die uitslag nie in die Suid-Afrikaners se guns was nie, het hulle bewys dat hulle op die wêreldverhoog hoort. Die Suid-Afrikaners het drie doele aangeteken deur Lucas Ribeiro, Iqraam Rayners en Lebo Mothiba. Afrigter Miguel Cardosa sê die uitslag is nie wat hulle wou hê nie, maar hy is tevrede met sy span se vertoning. Sundowns bly tweede in Groep F met drie punte en sal nou voorberei vir hul wedstryd Woensdag teen Fluminense.
# En ten slotte: ’n Foto van die Prins van Wallis met ’n werpsel hondjies is deur Kensington-paleis op sosialemedia geplaas om sy 43ste verjaardag te vier. Die foto, geneem deur die Prinses van Wallis, wys Prins William saam met hul gesin se Cocker-spaniël, Orla, en drie van haar onlangse werpsel van vier. Die boodskap vir Prins William is aanlyn “met liefde” onderteken, met die voorletters van Catherine en hul kinders plus ’n pootafdruk-emoji. Orla is in 2020 deur Catherine se broer, James Middleton, aan die koninklike paartjie gegee, kort na die dood van hul vorige hond Lupo.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….