Nuus 11:00
BULLETIN 21 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Vereniging van Staatsamptenare is bekommerd oor die Valke se dienslewering
# Brittanje stem ten gunste van bystandsdood
# En rugby: Die Britse en Ierse Leeus verloor teen Argentinië
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê hy is uiters bekommerd dat die onaanvaarbare personeeltekort by die Valke ‘n negatiewe uitwerking op dienslewering kan hê. Claude Naiker van die vereniging sê op ‘n organogram wat voorsiening maak vir vyfduisend-332 werknemers, is daar slegs tweeduisend-688 poste gevul, met slegs nog 500 wat in die 2025/2026-boekjaar gevul sal word. Hy sê die kommerwekkende situasie toon ‘n gebrek aan bereidwilligheid deur die regering om ernstige en georganiseerde misdaad te bestry:
# Die onderwysaktivis, Hendrick Makaneta doen ‘n beroep op alle belanghebbendes om kragte saam te snoer om ‘n kultuur van vrede, respek en empatie by skole te bevorder. Hy sê die tragiese voorval waar ‘n graad 11-leerder, Lethabo Matula, vermoor is deur ‘n medeleerder by die Lesedi Secondary School in Bronkhorstspruit, Pretoria-Oos, het skokgolwe deur die land gestuur. Makaneta sê hulle sal voortgaan om te pleit vir die veiligheid en welstand van alle leerders:
# ActionSA gaan Maandag ‘n veldtog in Alexandra, Johannesburg, van stapel stuur om plaaslike regering te herstel en diensleweringsmislukkings aan te pak. Die veldtog sal munisipaliteite oor die hele land betrek om te pleit vir basiese dienste en verantwoordbaarheid. ActionSA se president, Herman Mashaba, en partyleiers sal ná die bekendstelling deur-tot-deur-gesprekke in Alexandra voer om na inwoners se bekommernisse te luister. Hulle gaan dringende optrede vra om waardigheid en infrastruktuur te herstel in verwaarloosde gemeenskappe.
# President Cyril Ramaphosa het ‘n beroep gedoen vir wêreldwye vredespogings om die toenemende spanning tussen Israel en Iran te ontlont. Israel en Iran gaan voort met missiel- en hommeltuigaanvalle teen mekaar, met tientalle beserings en sterftes aan elke kant. Die president sê daar moet onmiddellike dialoog wees om die konflik te beëindig. Hy het sê dit verwoes die wêreld-ekonomie:
# Britse wetgewers het ’n wetsontwerp oor bystandsdood vir sterwendes goedgekeur, met ’n skrale meerderheid van 314 stemme teenoor 291. Vrydag se stemming beteken Britanje sluit nou aan by ‘n klein groep van nasies waar bystandsdood toegelaat word. Die wet maak voorsiening vir mense met ‘n terminale siekte en ‘n lewensverwagting van minder as ses maande om medisyne te neem vir selfdood, mits hulle die besluit self kan neem. Kanada, Nieu-Seeland, Spanje, die grootste deel van Australië, asook verskeie Amerikaanse state laat bystandsdood toe.
# En rugby: Die Britse en Ierse Leeus vertrek vandag na Australië, ná ‘n nederlaag van 28-24 teen Argentinië in hul opwarmingstoets in Dublin gister. Die nuwe hoofafrigter Andy Farrell was egter nie bekommerd oor die nederlaag nie. Hy sê dit is waardevol vir sy span om so vroeg in die toer ‘n mededingende wedstryd te speel. Dit was die Pumas se eerste oorwinning in agt wedstryde teen die Leeus, en die Leeus het vir die eerste keer sedert 1971 ‘n toer-openingswedstryd verloor. Die Leeus speel volgende naweek teen Western Force in Perth.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….