Nuus 08:00
BULLETIN 21 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa waarsku oor die wêreldwye gevolge van die Israel-Iran-konflik
# Die polisie arresteer 201 verdagtes in ’n optrede teen geslagsgeweld
# En krieket: Tazmin Brits laat Suid-Afrika seëvier
# President Cyril Ramaphosa sê die toenemende konflik tussen Israel en Iran veroorsaak wêreldwye verwoesting, insluitend stygende brandstofpryse, ekonomiese onbestendigheid en lewensverlies. Ramaphosa waarsku die wêreld het ‘n gevaarliker plek geword as gevolg van die spanning wat aanhou toeneem. Hy versoek beide lande om die aanvalle te staak en hul verskille op te los, en sê vrede is al manier om ‘n groter krisis te voorkom:
Iran se minister van Buitelandse Sake, Abbas Araghchi sê intussen die land sal nie samesprekings oor sy kernprogram hervat, te midde van aanvalle nie. Dit volg ure nadat Israel se minister van Verdediging gewaarsku het oor voortgesette konflik teen die Islamitiese Republiek. Israel se VN-ambassadeur het Iran vroeër van ‘n volksmoordagenda beskuldig wat ‘n voortdurende bedreiging inhou, en bygevoeg Israel sal voortgaan om kernfasiliteite te teiken totdat dit afgetakel is. Gevegte het tot in die nag gewoed met die Israelse weermag se nuwe beplande vlaag aanvalle teen die Iranse missielberging- en lanseringsinfrastruktuur nadat Iran missiele na sentraal-Israel gelanseer het.
# Die president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, Lesetja Kganyago is amptelik as die 16de kansellier van Universiteit Stellenbosch ingehuldig. Die seremonie het gister in die Endler-saal op die universiteitskampus plaasgevind en is bygewoon deur hooggeplaastes, personeel en studente. Kanyago het tydens die seremonie gesê dit is ‘n eer om die rol te aanvaar en gevra dat die universiteit transformasie, diversiteit en akademiese vryheid ondersteun. Hy het die universiteit aangemoedig om sy verlede te konfronteer en rassisme te verwerp:
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het pogings teen geslagsgeweld verskerp en die afgelope week landswyd 201 verkragtingsverdagtes in hegtenis geneem, insluitend 56 gesoekte individue. ‘n Egpaar in Bloubergstrand is in hegtenis geneem vir die beweerde seksuele misbruik van hul jong dogters. Die polisiewoordvoerder, Amanda van Wyk, sê skuldigbevindings sluit in die van ‘n reeksverkragter, Lesley Mohlala, wat tot 222 jaar gevonnis is, en verskeie lewenslange vonnisse vir kinderverkragters. Sy beklemtoon die polisie se verbintenis tot die verwydering van seksuele roofdiere uit gemeenskappe:
# Krieket: Tazmin Brits het gisteraand ‘n sensasionele onoorwonne 98 van 63 balle gemoker om die Suid-Afrikaanse vrouespan met 50 lopies te laat seëvier teen die Wes-Indiese Eilande in hul T20-kragmeting in Barbados. Brits was van die begin van Suid-Afrika se beurt op die kolfblad en het haar span tot 183 vir ses gelei. Sy is as Speler van die Wedstryd aangewys. Dit is die Suid-Afrikaners se hoogste T20-telling teen die Wes-Indiese Eilande. Suid-Afrika loop nou 1-0 voor in die reeks van drie wedstryde.
# En om mee af te sluit: Die Universiteit van Kaapstad het van 171ste tot 150ste gestyg op die jongste QS-wêreld-universiteits-ranglys. Visekanselier Mosa Moshabela het die verbetering geprys as ‘n erkenning van die universiteit se tasbare uitwerking op navorsing en onderrig. Die instelling bly Afrika se hoogste gegradeerde universiteit. Belangrike sterkpunte sluit in globale navorsingsnetwerke, verwysings per fakulteit en volhoubaarheid. Die waarnemende adjunk-visekanselier, Jeff Murugan, skryf die verbetering toe aan die fokus op kritieke kwessies soos klimaatsveerkragtigheid, kunsmatige intelligensie en wêreldwye navorsingsvennootskappe.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….