Goeie Nuus
BULLETIN 20 Junie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Suid-Afrikaanse rolprent Don’t Give Up het die Goue Nimf-toekenning gewen in die Spesiale Skepping-kategorie op Monte-Carlo se Televisiefees. Die fees vereer buitengewone vertelkuns van reg oor die wêreld, insluitend produksies wat vir digitale platforms vervaardig is. Die prent is deur Darrell James Roodt geregisseer en deur Anant Singh vervaardig. Dit vertel die storie van Faith, vertolk deur Leleti Khumalo, ‘n bedelaar en enkelma van twee seuns. Singh sê die toekenning is ʼn aangename verrassing, veral omdat dit met ander baie goeie flieks meegeding het.
# Kaapstad beklee die 16de plek op Big 7 Travel se ranglys vir van die wêreld se vriendelikste stede vir die LGBTQ+-gemeenskap vanjaar. Die lys is gegrond op reisigersopnames, sosiale media-data en redaksionele resensies en beklemtoon die metro se inklusiewe gees en lewendige queer-kultuur. Die De Waterkant-distrik, wat gevier word vir geleenthede soos Cape Town Pride en die Mother City Queer Project, bly ‘n spilpunt vir LGBTQ+-lewe. Kaapstad herbevestig sy plek as Afrika se leier in LGBTQ+-regte en -aanvaarding.
# Die Wes-Kaapse regering het fase 2 van die reisbewysprogram vir werkaansoekers van stapel gestuur. Dit is daarop gemik om die koste van vervoer uit die weg te ruim, wat die grootste hindernis vir werklose inwoners is. Die Departement Beweeglikheid se woordvoerder, Muneera Allie, sê meer as drie-duisend-700 werklose inwoners het hulle by meer as 150 werkgewers-vennote geregistreer sedert die program in Februarie verlede jaar die eerste keer ingestel is:
# Die Vuma Schools-koderingsklub in samewerking met GirlCode, oorbrug Suid-Afrika se digitale gaping deur leerders in minder bevoorregte skole in Johannesburg te leer hoe om te kodeer. Die program van tien weke bied aan twee-duisend leerders die basis van koderingstegnologie soos Scratch, HTML en CSS. Die klub sê hy bemagtig leerders om werklike probleme in die wêreld op te los en vestig kreatiwiteit en selfvertroue. Dit baan die weg vir loopbaangeleenthede en help met digitale insluiting.
# En ten slotte: Een van die wêreld se beste sokkerspelers, Lionel Messi, het saam met die Turkse kunstenaar Refik Anadol gewerk om ‘n kunsmatige intelligensie-gedrewe kunswerk te skep. Die unieke digitale kunswerk getiteld “A Goal in Life” is ‘n uitbeelding van die Argentyn se betekenisvolste doele in sy loopbaan van 20-jaar, insluitend die ikoniese kopskoot in 2009 se Kampioeneliga-eindstryd. Die kunswerk word deur Christie’s in New York opgeveil, en aanlyn bieëry sluit die naweek. Opbrengste uit die verkoop sal verskeie organisasies sonder winsbejag bevoordeel, insluitend die Inter Miami CF-stigting se wêreldwye vennootskap met UNICEF.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….