Nuus 11:00
BULLETIN 20 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Drie eiendomme van die voortvlugtige Gupta-familie word opgeveil
# Die Parlement sê die agterstand van 14-duisend OPOD-sake ondermyn openbare vertroue
# En Europese ministers van Buitelandse Sake vergader met hulle Iranse ampsgenoot in Genève
# Drie eiendomme wat aan die Gupta-familie behoort, insluitend die omstrede Saxonwold-kompleks in Johannesburg, word volgende maand opgeveil. Die eiendomme is van ‘n Gupta-maatskappy wat onder sakeredding is, Confident Concept. Bieërs sal groot deposito’s van tussen 250-duisend-rand en 500-duisend-rand moet betaal. Dit volg nadat die Nasionale Vervolgingsgesag aangedui het hy sal nog ʼn aansoek indien vir die Gupta-broers se uitlewering. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle met politieke hooggeplaastes in Suid-Afrika saamgesweer het om staatsfondse te plunder.
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Polisie sê vertragings in gevolgebestuur by die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat verswak openbare vertroue en ondermyn interne dissipline. Opod het ‘n agterstand van meer as 14-duisend sake waarby polisiebeamptes betrek word, met aanklagte wat insluit sterftes in aanhouding, marteling en korrupsie. Die voorsitter van die komitee, Ian Cameron, sê die bykomende befondsing van 126,3-miljoen-rand oor die mediumtermyn sal hopelik aansienlik bydra tot die vermindering van die agterstand.
# Die Oos-Kaapse polisie ondersoek gisteraand se moord op ‘n personeellid van die Walter Sisulu-universiteit buite die instelling se Nelson Mandela-rylaankampus in Mthatha. Die slagoffer is in ‘n geparkeerde voertuig gevind. ‘n Polisiewoordvoerder, Nobuntu Gantana, sê voorlopige forensiese ontleding het bevestig dat die slagoffer veelvuldige skietwonde opgedoen het terwyl hy in die bestuurdersitplek was:
# Brittanje se minister van Buitelandse Sake, David Lammy, ontmoet vandag sy Franse en Duitse ampsgenote, asook Iran se minister van Buitelandse Sake, Abbas Araghchi, in Switserland. Die doel is om ʼn diplomatieke manier te kry om Iran se kernprogram te bespreek. Die Europese Unie se hoof van buitelandse beleid, Kaja Kallas, sal ook teenwoordig wees. Meer as 500 mense is in Israel en Iran dood sedert vyandelikhede verlede Vrydag begin het. Kallas sê alle partye moet internasionale wette gehoorsaam en selfbeheersing toepas:
# Olimpiese Spele: Kirsty Coventry, wat Maandag oorneem as president van die Internasionale Olimpiese Komitee, sê sy beskou samewerking met belanghebbendes as die belangrikste deel van haar ampstermyn. Die voormalige swemkampioen van Zimbabwe is in Maart verkies om Thomas Bach van Duitsland op te volg. Die 41-jarige is die IOK se eerste vroulike president. Coventry sê dis belangrik om na almal se menings te luister, maar sy verstaan sy moet besluite neem en verantwoordelikheid aanvaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-5-sent teen die dollar, 20-rand-79-sent teen die euro en 24-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-728-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-343-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….