Nuus 07:00
BULLETIN 20 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# OUTA sê korrupsie, nepotisme en politieke inmenging ondermyn plaaslike regering
# Die Parlement is bekommerd oor die Poskantoor se omkeerstrategie
# En Netanyahu prys Trump vir sy hulp aan Israel in sy oorlog met Iran
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê die probleme met plaaslike regering word veroorsaak deur swak en onetiese leierskap, nie swak wette nie. Die organisasie sê in sy voorlegging oor die konsep-witskrif oor Plaaslike Regering dat korrupsie, politieke inmenging en ’n gebrek aan aanspreeklikheid wydverspreid is. Julius Kleynhans van OUTA sê meer as die helfte van munisipaliteite is bankrot of wankelrig, met swak dienslewering, stygende skuld en mislukte infrastruktuur:
# Die parlementêre gekose komitee oor Ekonomiese Ontwikkeling en Handel het kommer uitgespreek oor sakeredding-praktisyns se werk in die Suid-Afrikaanse Poskantoor se omkeerstrategie. In 2024 is vier-duisend-875 werknemers afgelê nadat die Poskantoor in sakeredding geplaas is met skuld van 8,7-miljard-rand. Dit is ondersteun met ‘n reddingsboei van 2,4-miljard-rand. Die komiteevoorsitter, Sonja Boshoff, sê ʼn omkeerplan kan nie staatmaak op slagspreuke of strukturele geprutsel nie, maar moet geloofwaardigheid herstel, bedrywighede moderniseer en die Suid-Afrikaanse publiek se vertroue herstel.
# Die Spesiale Ondersoekeenheid het ʼn bevriesingsbevel van die Spesiale Tribunaal bekom teen ʼn eiendom wat glo gekoop is met wanbestede fondse van die Nasionale Loterykommissie. Die eiendom in Centurion, Gauteng, is geregistreer onder Black Tshisimba, ʼn maatskappy van Collin Tshisimba, wat betrek word by ander gevalle van wanbesteding van loteryfondse. Die ondersoekeenheid sê Make Me Movement, ʼn organisasie sonder winsbejag wat sowat 17,5-miljoen-rand van die loterykommissie ontvang het vir die bevordering van fietsry in landelike gebiede, het die geld herlei na instellings wat verbind word met Tshisimba en sy vennote.
# Israel se eerste minister Benjamin Netanyahu het president Donald Trump geloof en sê Amerika help sy land baie met die konflik in Iran. Volgens berigte het Trump aanvalsplanne vir Iran nagegaan, maar wag om te sien of Teheran van sy kernprogram afsien. Netanyahu het gister die Soroka Mediese Sentrum in Beersheba besoek wat deur ʼn Iranse missiel getref is. Meer as 70 mense is beseer. Hy sê hulle is vasbeslote om die kernbedreiging teen Israel uit te wis:
# Rugby: Die Britse en Ierse Leeus se hoofafrigter, Andy Farrell, beskou vanaand se oefenwedstryd teen Argentinië in Dublin as ‘n volskaalse toets. Die toergroep sal dit gebruik as voorbereiding vir die besoek aan Australië wat volgende naweek in Perth teen Western Force afskop. Hulle vertrek môreoggend. Farrell verwag sy manne sal vanaand voluit speel en sê hulle is gelukkig om ‘n gehalte-span soos die Pumas te hê om hulle te toets. Die wedstryd op die Aviva-stadion skop vanaand 9-uur Suid-Afrikaanse tyd af.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand teen die dollar, 20-rand-73-sent teen die euro en 24-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-725-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-362-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-69-sent per vat.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa lewer vandag die hoofrede tydens die 30ste herdenking van die Suid-Afrikaanse Konstitusionele Hof. Die seremonie vind plaas by Konstitusieheuwel in Braamfontein, Johannesburg. Die Hof is in 1994 ná die eerste demokratiese verkiesing gestig en speel ‘n belangrike rol in die handhawing van menseregte en die oppergesag van die reg. Hoofregter Mandisa Maya, die eerste vrou om die posisie te beklee, sal die geleentheid lei.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….