Nuus 13:00
BULLETIN 19 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering sê die toenemende neiging tot afpersing sal nie geduld word nie
# Die Israelse Weermag word beveel om aanvalle op strategiese teikens in Iran te verskerp
# En rugby: Rassie Erasmus is tevrede met die Bokke se voorbereiding vir volgende naweek se wedstryd teen die Barbarians
# Die regering sê die toenemende neiging om af te pers, waar misdadigers betaling vanaf sake-eienaars of liefdadigheidsorganisasies eis en met geweld dreig, sal nie geduld word nie. Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, veroordeel die dreigemente en intimidasie teen Gift of the Givers terwyl hulle lewensreddende hulp verleen aan vloedgeteisterde gemeenskappe in Mthatha in die Oos-Kaap. Regeringswoordvoerder, Nonkululeko Mtshali, sê afpersing is onwettig, ondermyn ekonomiese bedrywighede en bedreig die veiligheid en voortbestaan van hardwerkende Suid-Afrikaners:
# Statistieke Suid-Afrika sê kleinhandelverkope het in April met vyf-persent gestyg vergeleke met dieselfde maand verlede jaar. Algemene handelaars het die meeste groei getoon met ‘n styging van 5,3-persent, en kleinhandelaars in tekstiele, klerasie, skoeisel en leergoedere het met 12,5-persent gestyg. Raquel Floris van Statistieke SA sê verkope het met 0,5-persent gedaal teenoor die vorige drie maande, hoofsaaklik as gevolg van dalings vir algemene handelaars en voedsel-, drank- en tabakwinkels:
# Die Israelse Weermag is beveel om aanvalle op strategiese teikens in Iran te verskerp. Dit volg nadat Iran vandag sy jongste vlaag van ongeveer 30 ballistiese missiele op Israel afgevuur het. ‘n Hospitaal in Berseba is getref, wat meer as 60 mense beseer het. Israel se minister van Verdediging, Israel Katz, sê die doelbewuste aanvalle op hospitale en wooneenhede is die ernstigste vorm van oorlogsmisdade. Hy sê die IDF se verskerpte aanvalle is daarop gerig om die Ajatollah-regime te ontwrig.
# Rugby: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, sê hulle voorbereiding vir volgende Saterdag se kragmeting met die Barbarians in Kaapstad vorder goed. Die Bokke is byna voltallig na die aankoms van die Bulle se spelers, Leinster se slot, RG Snyman, en Leicester Tigers se losskakel, Handré Pollard. Hulle was verlede naweek nog betrokke by die eindstryde van die Verenigde Rugbykampioenskap en die Premierskap. Erasmus sê sommige spelers keer ook terug nadat hulle van beserings herstel het:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-4-sent teen die dollar, 20-rand-88-sent teen die euro en 24-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-973-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-371-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 75-dollar-89-sent per vat.
# En ten slotte: Afrika se grootste perdewedren en modeskou, die Durban July, spog vanjaar met Suid-Afrika se mees gevierde musiektalent. Die veelbekroonde Afro-pop-duo Mafikizolo, die groep Sunset Sweatshop, die sangeres Lira en DJ Dalootz is sommige van die kunstenaars wat op 5 Julie op die Greyville-renbaan sal wees. Woordvoerder Zandile Dlamini sê vanjaar se July is meer as net ‘n wedren; dis ʼn kulturele ervaring waar die publiek waarlik die ritme van hierdie leefstylgeleentheid kan beleef.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….