Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 19 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, sê hulle voorbereiding vir volgende Saterdag se kragmeting met die Barbarians in Kaapstad vorder goed. Die Bokke is byna voltallig na die aankoms van die Bulle se spelers, Leinster se slot, RG Snyman, en Leicester Tigers se losskakel, Handré Pollard. Hulle was verlede naweek nog betrokke in die eindstryde van die Verenigde Rugbykampioenskap en die Premierskap. Erasmus sê sommige spelers keer ook terug nadat hulle van beserings herstel het:
Die organiseerders van die wedstryd het intussen twee nuwe blokke kaartjies vrygestel om Suid-Afrika se Wêreldbekeroorwinning van 1995 te vier. Die oorwinning van 30 jaar gelede sal herdenk word met die verbyvlug van ‘n jumbo-straler wanneer die Bokke hulle seisoen afskop. Die kategorie-kaartjies teen 950-rand elk is nou beskikbaar vir die noordelike en suidelike pawiljoene. Die Bokke het die All Blacks 15-12 geklop in die eindstryd op Ellispark op 24 Junie 1995.
# Motorsport: Die beheerliggaam, die F-I-A, het Kyalami in Johannesburg se opgraderingsplanne goedgekeur, wat dit die enigste Graad 1-baan in Afrika sal maak en die weg baan dat Formule Een na Suid-Afrika terugkeer. Die opgradering wat na raming sowat 180-miljoen-rand sal kos, sal nie die baan se uitleg verander nie, maar veranderings insluit wat aan moderne veiligheids- en tegniese standaarde voldoen. Die FIA sê die werk moet binne drie jaar voltooi word. Kyalami het van 1967 tot ’93 21 Grand Prix-wedrenne aangebied.
# Netbal: Die wêreldbeheerliggaam het planne aangekondig vir ‘n Wêreldbekertoernooi elke twee jaar in plaas van die huidige vier jaar weens onsekerheid oor die toekoms van die Statebondspele. Die Spele se organiseerders sukkel om gasheerstede te kry weens die toenemende koste. Die volgende Wêreldbekertoernooi word beplan vir oor twee jaar in Australië. Wêreldnetbal sê hulle wil die sport oor die langtermyn laat groei. Planne is ook aangekondig vir ‘n Wêreldbekertoernooi vir mans omdat die sport al gewilder word onder mans.
# En tennis: Die Amerikaanse Ope stel vanjaar ‘n nuwe formaat bekend vir die gemengde dubbelspel en ‘n hele aantal groot name het hulle reeds daartoe verbind. Dit sal oor twee dae plaasvind voor die hooftoernooi op 24 Augustus begin. Die organiseerders hoop dit sal meer hoëprofiel-enkelspelers lok. Onder die inskrywings wat reeds ontvang is, is die wêreld-nommer-twee, Carlos Alcaraz van Spanje, wat saam met die Brit Emma Raducanu gaan speel, die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner van Italië, en Novak Djokovic van Serwië.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….