Nuus 06:00
BULLETIN 18 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê ‘n entrepreneurskultuur moet aangemoedig word teen jeugwerkloosheid
# Die Christelike Forum sê die nasionale dialoog is geldmors
# En Donald Trump sê hy soek ‘n werklike einde aan die konflik tussen Israel en Iran
# President Cyril Ramaphosa sê die omvang en skaal van jeugwerkloosheid beteken dat die regering vaardigheidsontwikkeling moet versterk en ‘n entrepreneurskultuur moet bevorder. Die jongste indiensnemingsyfers toon ‘n werkloosheidsyfer van 46,1-persent onder jongmense van 15 tot 34. In sy weeklikse nuusbrief sê Ramaphosa die regering het sedert 2020 verskeie jeug-programme van stapel gestuur om werkloosheid te bestry. Hiervan is die Presidensiële Indiensnemingstimulus die belangrikste. Hy sê dit is uiters belangrik om die wanverhouding tussen die beskikbare vaardighede in die werksmag en markbehoeftes te oorkom.
ActionSA sê intussen bykans 12-miljoen werklose Suid-Afrikaners word sielkundig verwoes weens die verergerende werkskrisis. In ‘n verslag oor die regering van nasionale eenheid se prestasie in sy eerste bestaansjaar, kritiseer Alan Beesley van ActionSA die regering omdat hy nie daarin kon slaag om die ekonomie te laat groei nie, en waarsku 300-duisend werksgeleenthede is in die laaste kwartaal verloor. Beesley sê ekonomiese stilstand, swak beleid en swak bestuur het armoede en ongelykheid vererger:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Christelike Forum sê die nasionale dialoog is ‘n sinnelose geldverkwisting wat gekanselleer moet word. Hulle voer aan die 700-miljoen-rand wat vir die dialoog toegeken is, sal beter aangewend kan word vir werkskepping, die ondersteuning van vloedslagoffers, en die versterking van die Nasionale Vervolgingsgesag. Die president van die forum, Marothi Mashashane, doen ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om die dialoog te onttrek en eerder te fokus op die toepassing van bestaande beleid vir werkskepping en die bekamping van geslagsgeweld:
# Die Ondersoekkomitee van die Gautengse wetgewer, onder die voorsitterskap van Matshidiso Mfikoe, sal vandag besoek aflê by die Midrandse noodmediese-dienste om die instel van hersiene ambulansdiensfooie te beoordeel. Dit volg ná ‘n jaarlikse verhoging van 4,3-persent wat in Mei goedgekeur is. Die besoek het ten doel om ooreenstemming tussen openbare diensmandate en grondwetlike beginsels te verseker. Dit vorm ook deel van voortgesette toesighoudende betrokkenheid.
# President Donald Trump sê hy soek ‘n werklike einde aan die Israel-Iran-konflik, nie net ‘n skietstilstand nie. Meer as 200 mense is dood in Iran en meer as 20 in Israel sedert die vyandelikhede verlede Vrydag begin het. Israel het Trump versoek om meer betrokke te raak by sy veldtog om Iran se kernfasiliteite af te takel. Trump, wat die G7-beraad in Kanada vroeg verlaat het, sê hy het nog nie uitgereik oor ‘n moontlike skietstilstand nie, en sê sy geduld met Iran begin opraak.
# Rugby: Die Britse en Ierse Leeus het Leicester se skrumskakel, Jack van Poortfliet, opgeroep as dekking vir die Ierse speler, Jamison Gibson-Park, wat ‘n geringe besering opgedoen het. Hoofafrigter Andy Farrell het ‘n aantal spelers gevra om die Leeus by te staan met voorbereiding vir hulle opwarmingswedstryd teen die Pumas voor hulle toer in Australië omdat baie spelers betrokke was by die eindstryde van die Premierskap en die Verenigde Rugbykampioenskap. Die Leeus speel Vrydag in Dublin teen Argentinië en die toer begin volgende Saterdag in Perth teen Western Force.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-1-sent teen die dollar, 20-rand-67-sent teen die euro en 24-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-685-dollar-10-sent. Die prys van goud is drie-duisend-388-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….