Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 17 Junie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Black Coffee-stigting het 500-duisend-rand ingesamel om slagoffers van die Oos-Kaapse oorstromings by te staan. Neëntig mense is dood en duisende dakloos gelaat. Die stigting het sedert die eerste ontruimings kos, klere en skoonmaakmiddels aan gesinne in Mthatha geskenk. Die musikant DJ Black Coffee het ook ‘n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om slagoffers by te staan met komberse, warm klere, nie-bederfbare voedsel en baba-produkte. Mense kan skenkings doen deur die stigting.
# Die Nasionale Seereddingsinstituut moedig Suid-Afrikaners aan om op hierdie wintersonstilstand, die langste nag van die jaar op 21 Junie, ‘n ysbad te neem in die see of in ‘n bak ysige water, as ‘n simboliese uitdaging om lewensreddingspogings te ondersteun. Die geleentheid samel geld in vir reddingsaksies, swemopleiding, en onderrig oor waterveiligheid. Van vrywilligers by die kus tot binnelandse ondersteuners, word almal aangemoedig om die ysige sprong te neem en hierdie winter ‘n verskil te maak.
# ‘n Student in Sosiale Wetenskap en Ekonomie aan die Noordwes-universiteit, Maano Rambwa, sê sy strewe na finansiële onafhanklikheid is die rede waarom hy ‘n entrepreneur geword het. Hy het Candy Corner in 2023 begin, lekkers op die kampus verkoop en geld gespaar om ‘n motor te koop. Dit is nou by die Bolt-diens geregistreer waarmee hy vervoer aanbied vir studente en inwoners van Mahikeng. Rambwe sê dit verg self-dissipline en struktuur om ‘n onderneming te bedryf terwyl jy studeer.
# Die Stad Kaapstad sê die getal biblioteke wat aan vanjaar se skaaktoernooie deelneem, het meer as verdubbel met 66 wat reeds ingeskryf het teenoor verlede jaar se 32. Die jaarlikse geleentheid staan bekend as chess@libraries met mini-toernooie in aanloop tot die eindronde in Oktober. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Francine Higham, sê die eerste skaakrondes in biblioteke begin die einde van die maand:
# En ten slotte: Die lang-verwagte sport-aksiefliek, F1 The Movie, het sy debuut op Times Square in New York gemaak. Die fliek vertel die storie van die gewese F1-renjaer Sonny Hayes, vertolk deur Brad Pitt, wat ʼn terugkeer maak om te jaag saam met sy nuweling-spanmaat, Joshua Pearce, gespeel deur Damson Idris. Dit begin die 27ste in teaters draai. Een van die vervaardigers, die Britse renjaer Lewis Hamilton, sê hy is tevrede met die fliek:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….