Nuus 12:00
BULLETIN 17 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie se hersiene plan teen geslagsgeweld word in die Parlement gekritiseer
# Ouers moet 2026 se plasings in Wes-Kaapse skole vandag bevestig
# En minstens 15 mense sterf in ‘n reuse-Russiese missiel- en hommeltuig-aanval op Kiëf
# Die polisie se hersiene plan van optrede oor geslagsgeweld en moord op vroue is skerp gekritiseer tydens ‘n gesamentlike vergadering van die Parlement se portefeuljekomitees oor Polisie en oor Vroue, die Jeug en Gestremdes. Die plan is in Januarie opgestel en fokus op die versterking van die voorste linie-dienste en vestiging van komitees wat op kinders gerig is. Die voorsitter van die komitee oor Vroue, die Jeug en Gestremdes, Liezl Linda van der Merwe, het egter die doeltreffendheid bevraagteken en sê dit word swak bestuur:
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het ouers wie se kinders meer as een plasing vir Graad R, 1 of 8 vir 2026 gekry het, versoek om voor die einde van vandag hul keuse te bevestig. Die LUR vir Onderwys, David Maynier, sê hierdie ouers vertraag die plasing van ander leerders. Hy versoek dringende bevestiging van plasings aangesien baie ouers wag vir plek vir hul kinders:
# Minstens 15 mense is oornag dood en meer as 50 gewond in Russiese hommeltuig- en missielaanvalle op die Oekraïnse hoofstad, Kiëf. Amptenare sê Moskou het meer as 440 hommeltuie en 32 missiele op 27 verskillende plekke gelanseer. ‘n Ballistiese missiel het onder meer ‘n woonstelgebou van nege verdiepings getref. Rusland se ministerie van Verdediging sê hulle het oornag 147 Oekraïnse hommeltuie onderskep en vernietig. Die Oekraïnse president, Volodimir Zelensky, sê Rusland se jongste aanvalle is louter terrorisme.
# Gholf: Die vyfmalige major-kampioen, Rory McIlroy, is die eerste speler wat outomaties gekwalifiseer het vir kaptein Luke Donald se Span Europa vir vanjaar se Ryder-bekerkompetisie. McIlroy, van Noord-Ierland, het sy plek verseker danksy vier oorwinnings sedert die Europese puntelys in Augustus geopen het. Hy sal in sy agtste agtereenvolgende tweejaarlikse Ryderbeker-kompetisie speel. Die toernooi is vir September in New York geskeduleer. Donald se span van 12 lede word saamgestel uit ses kwalifiseerders en ses kapteinskeuses.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-80-sent teen die dollar, 20-rand-57-sent teen die euro en 24-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-643-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-385-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 73-dollar-10-sent per vat.
# En laastens, die Black Coffee-stigting het 500-duisend-rand ingesamel om slagoffers van die Oos-Kaapse oorstromings by te staan. Neëntig mense is dood en duisende dakloos gelaat. Die stigting het sedert die eerste ontruimings kos, klere en skoonmaakmiddels aan gesinne in Mthatha geskenk. Die musikant DJ Black Coffee het ook ‘n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om slagoffers by te staan met komberse, warm klere, nie-bederfbare voedsel en baba-produkte. Mense kan skenkings doen deur die stigting.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….