Nuus 11:00
BULLETIN 17 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Mashatile sê minister Godongwana sal besluit oor die begroting vir die Nasionale Dialoog
# Siekteverlof in die Staatsdiens het in 2023 tot 10,1-miljard-rand gestyg
# En die G7-leiers dring aan op ’n afname in konflik in die Midde-Ooste
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sal die finale besluit neem oor die begroting vir die komende Nasionale Dialoog. Die eerste Nasionale Konvensie om die omvattende proses moontlik te maak, vind op 15 Augustus plaas, waarna die agenda vir die dialoog opgestel sal word. Die voorbereidingskomitee vir die dialoog skat die koste sal meer as 700-miljoen rand beloop. Mashatile sê Godongwana sal al die uitgawes vir die geleentheid beoordeel:
# Die Staatsdienskommissie het aanbeveel dat alle staatsdepartemente jaarliks rekords van siekteverlof oudit om voorvalle van werkers se oormatige gebruik en misbruik daarvan te identifiseer. ‘n Verslag deur die kommissie toon die koste van siekteverlof in die Staatsdiens het gestyg van agt-miljard-rand in 2020 tot 10,1-miljard rand in 2023. Gauteng se koste vir siekteverlof was die hoogste met 1,4-miljard-rand, gevolg deur KwaZulu-Natal met 1,3-miljard. Die kommissie sê daar is ‘n verband tussen verlofkoste en die hoeveelheid werknemers in nasionale en provinsiale departemente.
# ActionSA sê hy is geskok deur die onthulling dat die Gautengse Onderwysdepartement skuldlaste aan skole oordra. Baie geen-fooi-skole in die provinsie se elektrisiteit en water kan moontlik afgesny word nadat die departement skielik sy besluit van verlede jaar teruggetrek het om nutsdiens-rekeninge te betaal. ActionSA se woordvoerder, John Moodey, sê dit laat sukkelende gemeenskappe met meer as 300-miljoen-rand se skuld:
# Die G7-lande se leiers het hulle eenparige ondersteuning vir Israel herhaal en gevra dat vyandelikhede in die Midde-Ooste afgeskaal word. In Iran is minstens 224 mense dood sedert die konflik vyf dae gelede begin het terwyl 24 in Israel gesterf het. Die G7-lande het Iran veroordeel omdat die land volgens hulle die hoofbron van onbestendigheid en terreur in die streek is. Die leiers het herhaal dat Iran nooit kernwapens mag hê nie.
# Gholf: Die vyfmalige major-kampioen, Rory McIlroy, is die eerste speler wat outomaties gekwalifiseer het vir kaptein Luke Donald se Span Europa vir vanjaar se Ryder-bekertoernooi. McIlroy, van Noord-Ierland, het sy plek verseker danksy vier oorwinnings sedert die Europese puntelys in Augustus geopen het. Hy sal in sy agtste agtereenvolgende tweejaarlikse Ryderbeker-kompetisie speel. Die toernooi is vir September in New York geskeduleer. Donald se span van 12 lede word saamgestel uit ses kwalifiseerders en ses kapteinskeuses.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-82-sent teen die dollar, 20-rand-59-sent teen die euro en 24-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-860-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-387-dollar-94 sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….