Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 17 Junie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en ander wetstoepassingsagentskappe fokus op die onwettige brandstofbedryf wat jaarliks byna vier-miljard-rand uit die fiskus verduister. Die diens sê hy het vordering gemaak deur die afgelope vier maande op die swartmarkbrandstofbedryf toe te slaan.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig verskeie politieke partye en organisasies het gister tydens Jeugdag gefokus op die byna 8,7-miljoen jong mense in die land wat werkloos is. Die ANC sê te veel jeugdiges word uitgesluit uit die hoofstroomekonomie.
Dan skryf die webblad die Vrystaat en Noord-Kaap kan van môre af nog ysige weer verwag.
En laastens word berig oor die Rustenburgse egpaar, Wilma en George Koster wat helder oordag in die parkeerterrein van die Platinum Square-winkelsentrum doodgeskiet is. Daar was blykbaar ‘n stryery oor ‘n parkeerplek.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf president Donald Trump het by die G7-beraad gesê Iran moet dringend samesprekings voer met Israel voordat dit te laat is. Die koerant berig ook die konflik kan ‘n regstreekse uitwerking op Suid-Afrika hê met brandstofpryse wat die hoogte inskiet.
# Sowetan:
Berig daar was ‘n skerp toename in ontvoerings in Jabulani, Soweto. Die koerant skryf dit hou verband met rooftogte waar die misdadigers mense ontvoer om verdere finansiële inligting te bekom.
# En The Citizen:
Lei met: “YOUTH: IT IS AN EMERGENCY”. Die koerant skryf jeugleiers sê ons moet ophou fokus op die jeug van 1976 – hulle het hul deel gedoen. Vandag se jeug is gekwalifiseerd maar werkloos.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens oor die 24-jarige Devon Goliath en 16-jarige Me-Jaygon Barends wat op die N1 naby Laingsburg doodgery is. Hulle was deel van ‘n groep jong mense wat ‘n romantiese fotosessie gehou het.
En tweedens skryf die koerant reën, sterk wind en koue weer word vir die res van die week vir die Oos- en Wes-Kaap voorspel.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig daar bestaan twyfel of die ANC se streekkonferensie in Nelson Mandelabaai die naweek sal voortgaan aangesien faksiegevegte in die party al hoe meer tot geweld lei.
En tweedens skryf die koerant die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsagentskap het wydverspreide korrupsie in sy Oos-Kaapse kantoor ontdek. Daar is duisende vermiste lêers, fiktiewe kinders en vals pensioenarisse.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf oor ‘n plaaslike Pitbull-eienaar wat na bewering deur sy eie honde aangeval is.
En berig oor ‘n onwettige skool in Northdale wat blootgelê is.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Namibiese minister van Myne, Natangwe Ithete sê die drie maatskappye wat hul regte as gemagtigde kopers van ongeslypte diamante verloor het, het nie aan die minimum aankoopvereistes voldoen nie.
En tweedens skryf die koerant die ministerie van die Omgewing, Bosbou en Toerisme verwag dat die opknapping van die Etosha Nasionale Park se heining sal nog vyf jaar neem. Dit volg nadat dit aan die lig gekom het sowat 388 stuks vee is die afgelope vyf jaar rondom die park gevang.