Nuus 07:00
BULLETIN 17 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrikaners in Iran word versoek om hul veiligheid te evalueer
# Jacob Zuma glo die jeug sal die land bevry
# En Paul Mashatile besoek Rusland om ekonomiese bande te versterk
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking moedig Suid-Afrikaners in Iran aan om die ambassade in Teheran te kontak en seker te maak hulle is geregistreer en hulle verblyfplek is bekend. Dit volg terwyl dodelike vyandelikhede tussen Israel en Iran steeds verskerp. Die departement sê Suid-Afrika se ondersteuning in Iran is beperk, en dis moontlik dat geen regstreekse konsulêre hulp in ‘n noodgeval moontlik is nie. Hy sê landsburgers word aangeraai om hul eie veiligheid en sekerheid te bepaal en daarvolgens op te tree.
# Die MK-party-leier Jacob Zuma sê hy is vol vertroue dat die jeug Suid-Afrika sal bevry. Hy het gister die party se Jeugliga in Clermont, KwaZulu-Natal, bekendgestel. Dit volg meer as ʼn jaar nadat die liga gestig is. Qiniso Cibane sal voortgaan as president, terwyl Nkateko Mkhabela voortgaan as sekretaris-generaal. Zuma sê die jeug se stemme is ʼn belangrike deel van die MK-party:
Die EFF-leier Julius Malema sê intussen die regering het misluk om geleenthede, insluitend werksgeleenthede, vir jong mense te skep. Hy het gister die hoofrede gelewer by die party se Jeugdagviering in Umlazi, KwaZulu-Natal. Malema sê vandag se jeug moet deur die Klas van 1976 geïnspireer word om vir gratis onderwys en teen geslagsgeweld te veg:
# Die Stad Johannesburg het Projek Lokisa, ‘n grootskaalse skuldinvorderingsplan, bekend gestel wat op welgestelde residensiële en kommersiële oortreders gemik is. Die waarnemende hoof van die Inkomstediens, Malope Ramagaga, sê die doel van die projek is om miljarde terug te kry wat op elektrisiteit, water en belasting geskuld word. Projek Lokisa gaan ook onwettige verbindings takel en probeer om kredietbestuur en verordeninge konsekwent toe te pas. Hy het aan SABC News gesê verouderde stelsels en foutiewe rekeninge het die finansiële krisis vererger:
# Adjunkpresident Paul Mashatile is van vandag tot Saterdag op ‘n werksbesoek aan Rusland om handelsbande te versterk. Mashatile sal hoëvlakgesprekke in Moskou voer met Russiese leiers, insluitend president Vladimir Putin. Mashatile gaan die Sint Petersburg Internasionale Ekonomiese Forum bywoon en as spreker optree by belangrike geleenthede wat Suid-Afrika se G20-presidentskap en handelspotensiaal sal bevorder. Volgens die Presidensie sal die besoek groeiende ekonomiese samewerking beklemtoon in sektore soos energie, landbou, mynbou en tegnologie.
# Rugby: Engeland se voormalige kaptein, Owen Farrell, sluit met ʼn tweejaar-kontrak weer by die Saracens aan. Dit volg nadat hy ʼn jaar lank vir die Franse span, Racing 92, uitgedraf het. Hy het in 17 wedstryde vir hulle gespeel, een drie gedruk en 41 punte aangeteken. Farrell se terugkeer na Saracens beteken hy is beskikbaar om gekies te word vir Engeland se komende toer na Argentinië. Farrell sê Saracens is sy tuiste en hy is uiters opgewonde om terug te wees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-83-sent teen die dollar, 20-rand-59-sent teen die euro en 24-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-50-dollar-60-sent. Die prys van goud is drie-duisend-400-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….