Nuus 08:00
BULLETIN 16 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA stel sy eerste oorsig oor die regering van nasionale eenheid vry
# Forum for South Africa verwerp die Nasionale Dialoog
# En, Israel se nasionale lugredery El Al kanselleer alle vlugte
# ActionSA sal môre Suid-Afrika se eerste jaar-oorsig oor die regering van nasionale eenheid vrystel. Die oorsig, wat ‘n jaar sedert sy stigting herdenk, sal die RNE se prestasie op sleutelbestuursgebiede beoordeel. ActionSA sê die datagedrewe verslag bied Suid-Afrikaners die kans om dienslewering te evalueer teenoor die regering se beloftes. Die party hoop om ‘n nuwe standaard van verantwoordbaarheid in Suid-Afrika se koalisiepolitiek te stel.
# Die Forum for South Africa het die konsep van ‘n Nasionale Dialoog gekritiseer en sê dit lei die aandag af van dringende kwessies soos misdaad, werkloosheid en korrupsie. Die FOSA-woordvoerder Tebogo Mashilompane sê die land het nie dialoog nodig nie, maar besliste leierskap en aksie. Mashilompane sê daar is bestaande wette maar die leiers is nie bevoeg om dit toe te pas nie. Hy dring daarop aan dat president Cyril Ramaphosa ontslae raak van onderpresterende ministers en dienslewering bo politieke teater stel:
# Die adjunkpresident, Paul Mashatile, is die hoofspreker by die 49ste Nasionale Jeugdag-herdenking by die Noordwes-Universiteit se Joolplaas-stadion in Potchefstroom. Hy neem waar vir president Cyril Ramaphosa, wat die G7-beraad in Kanada bywoon. Die geleentheid, onder die tema “Vaardighede vir die Veranderende Wêreld – Bemagtiging van die Jeug vir Betekenisvolle Ekonomiese Deelname” vereer die Soweto-opstand van 1976. Mashatile moedig hegter samewerking aan om jeugwerkloosheid te bestry deur middel van onderwys, vaardigheidsontwikkeling en ekonomiese geleenthede.
# En in nog ‘n mening oor Jeugdag, beklemtoon die leier van RISE Mzansi, Songezo Zibi, die noodsaaklikheid om die nalatenskap van die Soweto-opstand van 16 Junie 1976 te eerbiedig, ter ere van die jeug wat teen apartheid se onderwysbeleid gestaan het. Die woordvoerder van RISE Mzansi, Mabine Seabe, sê Zibi doen ‘n beroep op die stryd teen misdaad, korrupsie, honger en probleemdobbelary, terwyl ‘n billike ekonomie en ‘n toekomsgerigte onderwysstelsel vir alle Suid-Afrikaners gebou word:
#Israel se nasionale lugredery El Al het weens die voortslepende konflik tussen Israel en Iran alle vlugte tot ten minste 19 Junie opgeskort, met bykomende kansellasies na baie Europese stede tot 23 Junie. Die lugdiens het vroeër alle vlugte tot 17 Junie gekanselleer, met die land se lugruim wat steeds gesluit is. El Al sê sodra hy toestemming kry, sal hy alles in sy vermoë doen om soveel moontlik Israeli’s huis toe te bring. Intussen het die Nasionale Veiligheidsraad van Israel gewaarsku teen reise na Israel, Egipte en Jordanië, al is die twee lande se grense oop.
# En ten slotte rugby: Die beseerde Wêreldrugby-speler van die Jaar Pieter-Steph du Toit is uitgelaat uit die Suid-Afrikaanse groep wat vir die eerste vier wedstryde van die seisoen voorberei. Die 32-jarige flank is een van die ses beseerde spelers wat nie teen die Barbarians, Italië en Georgië sal speel nie. Die Springbokke sal tussen Augustus en Oktober ook twee Rugbykampioenskap-toetse elk teen Australië, Nieu-Seeland en Argentinië speel. Toerwedstryde in November teen Frankryk, Italië, Ierland en Wallis voltooi die res van die program vir die jaar, alhoewel bykomende wedstryde nie uitgesluit is nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….