Nuus 13:00
BULLETIN 15 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa is op pad na die G7-leiersberaad in Kanada
# Israelse aanvalle eis die lewens van 12 mense in Gaza
# En krieket: Suid-Afrika se vroue seëvier in die tweede eendagwedstryd teen die Windies
# President Cyril Ramaphosa het na Kananaskis, Kanada, vertrek om die 2025 G7-leiersberaad by te woon. Hy sal bilaterale gesprekke voer met die Kanadese premier Mark Carney, die Duitse kanselier Friedrich Merz, en ‘n tweede keer met president Donald Trump ontmoet. Die beraad fokus op energiesekerheid, innovasie en sterk mineraal-voorsieningskettings. Ramaphosa beoog om G7-pogings in ooreenstemming te bring met Suid-Afrika se G20-presidentskap wat streef na wêreldwye samewerking oor energie-oplossings en infrastruktuurbelegging.
# Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie het die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, se riglyne oor die Bela-wet veroordeel en sê haar optrede is onwettig en ongrondwetlik. SADOU-woordvoerder Nomusa Cembi sê die wet laat slegs regulasies toe en nie riglyne nie. Sy het die minister van politieke inmenging beskuldig. Sy sê die vakbond eis die terugtrekking van die riglyne:
# Die Departement van Water en Sanitasie het bewerings op sosiale media ontken dat oop sluise by die Mthatha-dam die onlangse oorstromings veroorsaak het. Die hoof van die Spesialis-eenheid vir Damveiligheid, Wally Ramokopa het in ‘n onderhoud met Newzroom Afrika beklemtoon dat die dam nie sulke sluise het nie. Ramokopa sê die oorloop was natuurlik en die oorstromings is deur die Qaqoqa-rivier vererger. Hy het inwoners aangespoor om vir veiligheid nie naby rivieroewers of in vloedgebiede te bou nie:
# Build One South Africa sê die voorgestelde wysiging van die Wet op Gelyke Indiensneming verbied werkgewers om vorige betaalstrokies te gebruik om salarisse vas te stel. Die partyleier Mmusi Maimane sê dit verskans loonongelykheid en beperk werkers tot lae-inkomste siklusse. Hy versoek deursigtigheid en billike werksadvertensies. Maimane sê dit bevorder waardigheid en ekonomiese deelname, veral vir vroue en die jeug, deur onbillike maatstawwe uit te skakel en regverdige, billike betaling in die arbeidsmark te bevorder:
# Plaaslike gesondheidsowerhede sê minstens 12 Palestyne is vandag regoor Gaza in Israelse lugaanvalle dood. Ten minste vyf van hulle is naby twee hulpsentrums dood wat deur die VSA-gesteunde Gaza Humanitarian Foundation bedryf word. Medici by die Al-Awda-hospitaal in die sentrale Gazastrook sê ten minste drie mense is dood en tientalle gewond in Israelse vuur toe hulle probeer het om by ‘n terrein van die stigting naby die Netzarim-korridor uit te kom. Nog twee is dood op pad na ‘n ander hulpsentrum in Rafah in die suide. Die Israelse weermag was nie beskikbaar vir kommentaar nie.
# En krieket: Dis een elk in die reeks van drie eendagwedstryde tussen Suid-Afrika en die Wes-Indiese Eilande nadat die Protea-vroue gister die tweede wedstryd met 40 lopies by die Cave Hill Oval in Barbados gewen het. Die Suid-Afrikaners se kolforde het uitgeblink met 309 vir 9, insluitend Sune Luus se 76 van net 65 balle. Nondumiso Shangase het vir slegs die tweede keer ‘n loopbaanbeste 55 in die nommer drie-posisie gelewer. In antwoord hierop was die Windies almal uit op 269. Die laaste, beslissende kragmeting is Dinsdag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….