Nuus 09:00
BULLETIN 15 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# COSATU is tevrede met die regering se vordering met gryslys-kwessies
# Daar is landwye betogings terwyl Trump se militêre parade deur Washington masjeer
# En gholf: Thriston Lawrence staan steeds ’n kans by die Amerikaanse Ope
# COSATU verwelkom die vordering wat die ANC-geleide regering gemaak het met die hantering van al 22 bevindings wat deur die Finansiële Aksietaakmag voorgestel is. Dit volg terwyl Suid-Afrika hoop om teen Oktober 2025 van die gryslys geskrap te word. Matthew Parks van COSATU het die behoefte beklemtoon vir sterk, goed toegeruste instellings om finansiële misdaad te bekamp, en gesê die verwydering van die gryslys sal beleggings en werkskepping bevorder:
# Die direketur van die Verenigde Nasies se Vigs-agentskap, Winnie Byanyima, waarsku dat wêreldwye pogings om MIV/Vigs teen 2030 uit te wis, van koers af is as gevolg van die verlies aan lewensreddende befondsing en ontwrigting van dienslewering. Met agt-miljoen mense wat met MIV in Suid-Afrika leef, het Byanyima welvarende lande aangemoedig om op te tree. Sy het vroeë tekens van dalende kliniekbesoeke benadruk en die dringende behoefte beklemtoon om die befondsingsgaping aan te vul om hoër infeksiesyfers te voorkom:
# Die DA se woordvoerder vir Gesondheid en Welstand in die Wes-Kaap, Memory Booysen, moedig Suid-Afrikaners aan om eerlike en openlike gesprekke met mans tydens Mansgeestesgesondheid-bewustheidsmaand te voer. Booysen beklemtoon dat geestesgesondheid steeds iets is waaroor nie gepraat word nie, veral onder mans, ondanks kommerwekkende statistiek. Selfdood is verantwoordelik vir 11-persent van sterftes weens beserings in die Wes-Kaap, met mans tussen 20 en 39 jaar wat die meeste geraak word. Sy sê dis tyd om die stigma te breek en ondersteuning en professionele hulp te prioritiseer:
# President Donald Trump se langverwagte militêre parade is gister in die strate van die middestad van Washington gehou. Dit was ook Trump se 79ste verjaardag. Die viering van die Amerikaanse leër se 250ste herdenking is egter gekenmerk deur ‘n dag van geweld en onenigheid. In die ure voor die parade begin het, het honderdduisende Amerikaners die strate in van New York tot Chicago en tot Los Angeles ingevaar en teen Trump se presidentskap betoog. Waarnemers sê dit is die grootste betoging sedert sy bewindsoorname in Januarie.
# En ten slotte sportnuus:
# Gholf: Suid-Afrika se Thriston Lawrence het na die derde ronde gister steeds ‘n kans by die Amerikaanse Ope by Oakmont. Lawrence het ‘n baansyfer 70 gespeel wat hom op 211 gelaat het, drie houe agter die voorloper Sam Burns van die VSA. Die ander Suid-Afrikaner wat steeds in die veld is, Christiaan Bezuidenhout, het die ronde met een oor baansyfer 71 afgesluit, wat hom ses houe agter die voorloper plaas. Burns het ‘n voorsprong van een hou, voor die laaste ronde met een-onder-baansyfer 69.
# En motorsport: Die Mercedes-jaer George Russell het Red Bull se Max Verstappen getroef om in die voorste posisie weg te spring in vandag se Kanadese Grand Prix in Montreal. Russell het gister die beste tyd in die laaste kwalifiserende ronde aangeteken. Die kampioenskapsvoorloper, Oscar Piastri, sal van die derde plek af wegspring, terwyl sy titelmededinger en McLaren-spanmaat, Lando Norris, slegs die sewende plek kon haal. Kimi Antonelli sal agter Piastri wegspring, met Lewis Hamilton vyfde in die voorste Ferrari.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….