Nuus 08:00
BULLETIN 15 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa wens die Proteas geluk met hul geskiedkundige Wêreldkampioenskap-oorwinning
# Die FBI soek ‘n verdagte ná die sluipmoord op ‘n Demokratiese wetgewerlid in Minnesota
# En rugby: Die Bulle kry ’n loesing teen Leinster in die Verenigde Rugbykampioenskap-eindstryd
# Krieket: President Cyril Ramaphosa het Suid-Afrika se krieketspan gelukgewens met die oorwinning van die IKR Wêreldtoetskampioenskap teen Australië gister op Lords in Londen. Die Proteas het op die vierde dag met vyf paaltjies gewen. Die bydraes van kaptein Temba Bavuma en kolwer Aiden Markram het die knoop deurgehaak. Hulle het onderskeidelik 69 en 136 in hul tweede beurt aangeteken. President Ramaphosa sê die afrigter Shukri Conrad, Bavuma en die span het Suid-Afrika trots gemaak. Hulle het die kampioenskap as buiteperd begin, maar hul ontembare gees, wat ons nasie kenmerk, het hulle deurgedra.
Bavuma is na die wedstryd gevra om sy emosies op te som:
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, sê omgewingsgesondheidsinspekteurs sal waterdraende- en wintersiektes in die vloedgeteisterde Mthatha ondersoek. Motsoaledi waarsku die streek se reeds verswakte gesondheidsfasiliteite, insluitend lykshuise, verkeer onder druk na die ramp. Hy het die belangrikheid van lykskouings en behoorlike voorbereiding van liggame vir bedroefde families beklemtoon, en bygevoeg dat respiratoriese infeksies en siektes soos griep na die oorstromings kan toeneem:
# Sanral het ‘n padopgraderingsinisiatief van 500-miljoen-rand in die Vrystaat van stapel gestuur, met werk wat slaggat-herstelwerk, padmerke en dreineringsinstandhouding insluit. Sanral betrek ook klein, medium en mikro-ondernemings deur werkswinkels oor voldoening en tenders. Die waarnemende belanghebberkoördineerder, Thandeka Ngema, sê voortgesette gemeenskapsdialoog sal deursigtigheid verseker. Dit sal werksgeleenthede skep en ekonomiese groei in dorpe soos Jacobsdal, Koffiefontein en Trompsburg aanwakker. Sy sê die opgraderings ondersteun landbou en verbeter streeksverbindings oor nasionale paaie.
# Duisende werkers is in Lesotho se klerebedryf afgelê weens ‘n dreigende 50-persent Amerikaanse invoertarief. Fabrieke in Maseru se Thetsane-nywerheidsgebied het bedrywighede vir minstens drie maande opgeskort weens bestellings wat opgedroog het. Vakbonde waarsku dat tot 20-duisend werksgeleenthede in gevaar is. Die regering het nog nie sy steun aangebied nie, terwyl fabriekseienaars skarrel om Suid-Afrikaanse bestellings en alternatiewe markte te bekom. Werkers eis ontslaguitbelatings namate die onsekerheid verdiep.
# ‘n Gewapende man wat hom as ‘n polisiebeampte voorgedoen het, het gister ‘n senior Demokratiese wetgewerslid en haar man in ‘n oënskynlike polities gemotiveerde sluipmoord vermoor. Die goewerneur van Minnesota, Tim Walz, sê die gewapende man het ook ‘n tweede wetgewerslid en sy eggenoot gewond. Die polisie en FBI is op soek na die verdagte wat te voet gevlug het nadat hy op die polisie geskiet en sy voertuig agtergelaat het. Beamptes sê hulle het ‘n “manifes” en ‘n lys van 70 wetgewerslede en amptenare in die verlate voertuig gevind.
# En rugby: Die Bulle is gisteraand oortuigend geklop deur Leinster in die eindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap in Dublin. Die eindtelling was 32-7. Leinster het van die begin af oorheers en met rustyd was hulle 19-0 voor. Die kanse dat die Bulle ‘n massiewe terugkeer teen die topspan in die kompetisie sou maak, was onwaarskynlik. Leinster het vier drieë gedruk, terwyl die Bulle se punte gekom het van ‘n drie in die 50ste minuut deur die plaasvervanger-haker Akker van der Merwe wat Johan Goosen verdoel het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….