Nuus 08:00
BULLETIN 14 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu verwelkom die Suid-Afrikaanse vredesbewaarders uit die DRK
# Donald Trump word toegelaat om die Nasionale Wag in Los Angeles te hou
# En krieket: Suid-Afrika is stewig in beheer van die Wêreldtoetskrieket-eindstryd teen Australië
# COSATU het die terugkerende lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag verwelkom ná hul vredesending in die Demokratiese Republiek die Kongo. Matthew Parks van die vakbondfederasie sê COSATU salueer hul opoffering en treur oor diegene wat tydens die sending omgekom het. Hy doen ‘n beroep op dringende ondersteuning, insluitend beter opleiding, toerusting en befondsing vir soldate. Hy het beklemtoon Suid-Afrika moet voortgaan om ‘n leidende rol in Afrika-vredespogings te speel:
Intussen dring die DA aan op dringende hervorming na onthullings oor die operasionele krisis in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag. Chris Hattingh van die DA sê vlootvoertuie lê in die dokke, lugmagvliegtuie mag nie vlieg nie, en kusbewaking is op die rand van ineenstorting. Hattingh waarsku die krisis is die gevolg van jare se verwaarlosing en swak leierskap. Hy sê Suid-Afrika se verdedigingskundigheid gaan vinnig agteruit, wat die nasie blootstel en kwesbaar laat. Hy vra vir oudits, onmiddelike belegging, en politieke aanspreeklikheid.
# Die Forum for South Africa sê swak dorpsbeplanning en munisipaliteite se gebrek aan dienslewering het die uitwerking van die onlangse vloede in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap vererger. Die organisasie sê baie mense word gedwing om naby riviere te bou as gevolg van die regering se versuim om behoorlike behuising en nedersettings te verskaf. Tebogo Mashilompane van die forum het rampbestuurspanne gekritiseer omdat daar nie gereageer word op vroeë weerwaarskuwings nie:
# Die adjunkminister van Wetenskap, Tegnologie en Innovering, Nomalungelo Gina, vra vir meer vrouens in die groenwaterstof ekonomie. Gina het ‘n nuwe groenwaterstof mentorskap-platform bekendgestel, wat jong talent en ervare professionele deskundiges in die groen-energiesektor bymekaar bring. Die woordvoerder van die Ministerie, Veronica Mohapeloa sê vrouens mag nie met die energie-oorskakeling agtergelaat word nie en vra vir doelbewuste pogings om vroue-leierskap in wetenskap en tegnologie te ondersteun:
# President Donald Trump kan voortgaan met die ontplooiing van Nasionale Wag-soldate in Los Angeles. Dit volg na ‘n hofuitspraak terwyl die betogings teen immigrasie-klopjagte na verwagting vir ‘n tweede week gaan voortduur. Dit is die sterkste reaksie teen die president sedert sy terugkeer in Januarie. Trump het gister die uitspraak van die 9de Amerikaanse Rondgaande Appèlhof verwelkom wat ‘n vorige laerhofuitspraak teen die ontplooiing tydelik gestop het. Stede regoor Amerika het die naweek betogings verwag teen die militêre parade in Washington, ter viering van die Amerikaanse Leër se 250ste bestaansjaar.
# En krieket: Aiden Markram het ‘n onoorwonne 102 aangeteken en ‘n ononderbroke derde paaltjie-vennootskap van 143 met kaptein Temba Bavuma in Suid-Afrika se tweede beurt teen Australië in hul Wêreldtoetskampioenskap-eindstryd op Lords in Engeland. Bavuma, wat aan ‘n dyspierbesering ly, het 65 lopies nie uit nie, aangeteken. Teen die einde van spel gister het die Proteas 213 aangeteken met ‘n teiken van 282 vir ‘n oorwinning. Op dag vier vanoggend benodig hulle nog net 69 lopies om te wen met agt paaltjies staande.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….